Volgens die agterblad van die boek is Siener van Rensburg – Boodskapper van God, die verhaal van ´n ware profeet wat die toekoms van volkere vooruit kon “sien”. Maar hy het veral “gesien” wat met sy eie volksgenote gaan gebeur en hierdie boek van byna 370 bladsye is propvol onthullings, historiese gegewens, visioene en ook honderde verklarings van gesigte wat die Siener gehad het.
Siener se visioen oor sy volk se komende benoudheid en donker tye waarin “jy nie jou hand voor jou oë sal kan sien nie”, stem baie ooreen met Johannes se Openbaring van gebeure in die Laaste Dae. Ook sy ander profesieë vertel die bitter en ontstellende verhaal van ontroue Afrikanerleiers se herhaaldelike verraad, van ´n volk se verguising, ´n staatsgreep en rewolusie – maar dis ook die verhaal van loutering, straf en uiteindelike eenwording, ´n nuwe tuiste en ongekende voorspoed.
Tientalle van sy visioene is reeds gedurende die afgelope dekade bewaarheid of sal binnekort in vervulling gaan:
* In 1916 het hy gesê dat ´n burgeroorlog in Joego-Slawië die begin sal wees van die Laaste Oorlog, en dat dit sal uitbreek wanneer die ys in Europa begin smelt. Dit sal eskaleer en uiteindelik op die Derde Wêreldoorlog uitloop.
* Die koms van ´n swart regering; die NP wat gaan verdwyn en onverwagte, dramatiese wendinge wat wêreldwyd groot opslae gaan maak.
* Op 18 Februarie 1918 het hy voorspel dat daar in die verre toekoms ´n verkiesing (1994) gaan wees waaraan “almal in die land” sal deelneem en dat die NP na afloop van die verkiesing nog slegs beheer in die Kaap sal hê!
* Hy sien twee baie belangrike volksleiers wat saam gewelddadig gaan sterf of gefusilleer gaan word.
Met die verskyning van die boek oor Siener, het Charles Fryer dit in Insig geresenseer en o.m. gesê dit vertel die verhaal van “een van die merkwaardigste persoonlikhede in ons land se geskiedenis. ´n Boek wat die Boereprofeet teruggee aan sy volk…”
