Die swaarvoertuig kom met skreeuende bande tot stilstand in die hoofstraat. Sirenes loei en mense skarrel rond. Esmeralda sien die aanstormende gillende skare en hoor die omstanders wat nuuskierig aan mekaar vra wat die vrou besiel het om so onverskillig die pad oor te steek. Esmeralda wil dit nie hoor nie want haar kop wil bars van pyn en sy begin blindelings hardloop.
Sy bereik die plaas met sy pragtige tuin wat sy persoonlik en met haar kaalhande geskep en gevorm het. Daar is egter vreemde mense wat voortploeter met hul alledaagse take en sy vervies haar op die plek omdat die tuin duidelik nie die regte hoeveelheid sorg ontvang nie en verwaarloos is. Vererg gee sy opdrag aan die naaste persoon om toe te sien dat die tuin natgemaak word, maar hy antwoord haar nie en kyk nie eers in haar rigting nie.
Mompelend stap sy verder en kom by die vakansieplek wat hulle al telkemale besoek het. Alles lyk nog presies dieselfde, die duine, piesangbome en pragtige strand strek skoon en wyd voor haar uit. Op haar tone hardloop sy strandlangs al deur die vlak water en tel hier en daar ’n skulp op en prop dit in haar rok se sak. Aan haar regterkant sowat honderd meter voor haar, merk sy haar bekende skool se wapen waar sy gematrikuleer het.
Alombekend aan haar beweeg sy deur die gimnasium en merk dat die bokkie waarop sy geoefen het nog steeds die winkelhaak in een van syhoeke het. Daar is leerlinge besig op die balk om balans te oefen en sy gee ’n paar wenke in die verbygaan maar niemand steur hulle aan haar nie. Sy beweeg vining by die deur uit en tref daarbuite die bekende hopies metaal aan wat hulle as kinders moes groepeer vir sakgeld.
Kruisbeen neem sy plaas op een van die kleurvolle matjies wat langs haar hopie koper lê. Daar is nog ‘n paar stukke staal op haar hopie waarvan die koper nie verwyder is nie en sy spring vining aan die werk. Haar tangetjie met sy roesbekkie is op sy gewone plek in die blikkie maar sy sukkel egter om hom stewig vas te hou en sodoende die koper los te wikkel en af te draai van die opgewende metaaltol. Sy was feitlik klaar en wou dit net afknip toe iemand haar aanhoudend roep.
“Mevroutjie, maak oop jou oë of druk my hand as jy my kan hoor. Lê asseblief net stil u beserings is baie ernstig.” Esmeralda prober haar oë oop forseer maar tevergeefs en haar kloppende hoofpyn is nou onuithoudbaar. Dan voel sy ‘n bekende hand se streling oor haar voorkop en hoor sy die geliefde stem. “Byt net vas my liefling, die ambulans is nou hier” sy druk sy hand en met sy druppende trane op haar vergruisde hand, bid hy saggies: “Here, as dit U wil is, gee asseblief dat haar strepie nie vandag getrek gaan word”.