Die optrede van die internationaal bekroonde Russiese klavierduo, Lavrova en Primakov, by die Nederburg Konsertreeks op Sondag 25 Oktober, beloof om ‘n musikale skittergeleentheid te wees.
Suid-Afrikaanse gehore het reeds tydens vorige geleenthede die kans gehad om virtuose solo-uitvoerings deur beide Natalia Lavrova en Vassily Primakov te geniet, maar met hierdie opwindende konsert span die twee buitengewone musikante hul indrukwekkende talente saam. Die program is getiteld Virtuose Extravaganza en sluit werke vir solo-klavier en klavierduet in.
Alhoewel beide pianiste al geruime tyd hoogs suksesvolle loopbane as solo-kunstenaars geniet, is dit hul liefde vir twee-klavier en vierhande-komposisies wat gelei het tot die vestiging van hul vennootskap in 2010. Sedertdien het hul uithaler vertonings van klavierduo-werke die lof van internasionale gehore en kritici ingepalm.
Twee groot solo-klavierwerke is ingesluit op die program vir die Nederburg konsert – Franz Schubert se “Wanderer Fantasie”, uitgevoer deur Primakov, en Sergei Rachmaninoff se “Variasies op ‘n tema van Corelli”, uitgevoer deur Lavrova.
Die res van die program word gewy aan werke vir klavierduet en sluit Carl Czerny se “Groot Sonate vir Klavierduet in F mineur”, Sergei Rachmaninoff se “Six morceaux”, sowel as Darius Milhaud se sprankelende “Le Boeuf Sur Le Toit”, in.
Kaartjies is beskikbaar teen R220 per persoon. Dit sluit sjerrie by aankoms, Nederburg Brut tydens pouse, plus ‘n verskeidenheid top Nederburg-wyne wat bedien sal word saam met ‘n heerlike vingerete na afloop van die konsert, in. Besprekings kan gedoen word via e-pos op concerts@distell.co.za of deur 021 809 8412/8106 te skakel gedurende kantoorure.
Die Nederburg-konsertreeks bied die Lavrova Primakov Klavierduo op Sondag 25 Oktober by die statige Nederburg-herehuis in die Paarl aan.
Die konsert begin om 17h00 en die reeks word aangebied deur Nederburg, in samewerking met die Distell-stigting.

