In die kerk

Ek staan voor by die koshuis-hek en wag. Nie om eerste weg te kom nie, nee, om nie vir Anna Vorster te laat wag nie.


Daai El Camino moet net sy neus daar onder wys, dan is my tasse klaar in die hand. As die canopy oopgaan is ek in. Petrus maak al oop van die hoek af. Hy gryp net en pak weg. So tussen die beeslek en skaapdip. Daar trek ons. Twee uur se stilsit en ry.

Ou Petrus se voete honk bietjie, so slaap is uit. Hy praat net van die ganse wat uitgekom het en hoe sy ore nou nog saggies twiet. Van Maandag se kant af. Anna Vorster laat nie met haar ganse lol nie. Ook nie met haar nie.

Tasse kan later, die beeslek moet uit en die ganse moet skoon drinkwater kry. Ek bring sommer ekstra hout in vir die stoof, dan kan ek vinniger gaan ghoef. Skape in, beeste in, hoenders toe, Bybel gelees en daar sit ons met die lampie op die tafel. Tjoepstil. Petrus en Johanna groet en sê nag by die agterdeur. Anna Vorster doen die Huisgenoot se blokkiesraaisel. Dis al laat, amper agt-uur. Sy lees vir my van President Vorster, wat hy alles sê. Haar opinie van die Natte en die Sappe laat my kop maar net knik. Want wat dominee en President Vorster sê, stry jy nie oor nie. Punt, klaar.

Saterdag is soos poeding. Sjokolade-poeding. Jis. Klaar ge-ghoef moet ek maar weer die ganse skoon drinkwater gee. Met aalwynblare in. Vir hoendersiektes. En ek beter dit die keer netjies in repe sny, anders klap Anna Vorster my weer. Dêm goed kan raas! Wonder of hulle weet hoe brand Anna Vorster se klappe. Jis! Hulle maak nie ‘n piep as sy nader kom nie. Hulle kom wrintiewaar ook nog nader as sy roep. Die Brahmaan ook. Sal dit nie met my doen nie. Dêm Brahmaan! Jaag my altyd. En ek sit sy lek vir hom uit. Jis! Het sy boud darem lekker geskiet met die kettie. Ek is seker dit was die klap werd. Mens weet nooit waar Anna Vorster is nie. Toe die klip klap toe brand my oor. Dêm, haar klappe brand! Petrus en Johanna kry Saterdag vroeg af. Dan is dit net ek en Anna Vorster. Ons gaan slaap laat, seker eers nege-uur. Anna Vorster luister stories. Dan sit ek stil.

Vandag is dit kerk en Sondagskool. Die El Camino is gewas en die bumpers blink. Ag jis, dominee Dreyer kan lank bid! En die Sondagskool, jis, die ouderling verduidelik van Genesis af! Ons trek al by Markus. Jis! Ek laaik nie van die teekamer nie. Die tannies wil almal soen. Jis, dêm tannies! Ek mag ook nie meer as een koeksister kry nie. Na kerk. Altyd na kerk.

Hiert! Jou gogga! Kom bietjie nader, kom bietjie nader … ba! Ek weet nie wat se klap ek eerste gehoor het nie. Die gogga se doodskoot, of Anna Vorster se plathand teen die oor. Die dominee het net ge-“ugm-ugm”. Toe gaan hy maar aan. Ook maar goed so, want as Anna Vorster haar klappe uitdeel, dan hardloop mense dat dit klap. Toe sit ek maar met die ge-zoem in my oor, … uhmmm, regteroor.

En die gogga het wragtig die doodskoot oorleef. Kruip so wrintiewaar weer op die bank rond. Nogal in Anna Vorster se rigting. Nou weet mens nie wat om te doen nie. Haar klappe brand, die dat mens twee of drie keer dink voorlat jy sommer net ‘n ding doen. Toe los ek maar. Toe sit ek maar dadelik my hande op die ruglening voor ons, sodat Anna Vorster dit kan sien. Sy kyk my hande, toe vir my en toe weer vir die dominee. So as sy nou iets voel teen haar been of boud, sy my nie teen die oor donner nie, want my hande is mos nou waar sy dit kan sien.

En daar gaat die ding. Boef! Teen haar rok vas. Hie-hie dink ek maar saggies, hier kom ‘n ding. En ek skuif toe uit versigtigheid, en nie só dat Anna Vorster dit dadelik sien nie, net ‘n entjie weg. Annerkant toe. Ek sê mos, haar klappe brand. En daar gaat die ding, teen haar rok op en staan stil.

Nou kan ek ook nie net vir die gogga staar nie, Anna Vorster sal my sien. En die dominee ook. Nou loer ek maar so met die een oog ondertoe, en maak of niks fout is nie. He he he! Hier komme ding. Toe ek weer so bietjie loer, kruip die gogga al wrintiewaar teen haar trui op. Toe skuif ek saggies nog ‘n klein entjie weg. Annerkant toe. Want Anna Vorster se klappe brand. He he! Nog ‘n entjie verder. Ongemerk. Ek dink ‘n myl ver is nog te naby, maar my spasie is nou beperk. Ek sit al amper op die ouderlinge. He he!

Daar gaat die ding. Op die bolla. Oor die haar naalde. Terug op die bolla. Kyk voor my. Die dominee kyk nou te veel na my kant toe. Dit voel of my oë uitskeur soos ek wil kyk na daai kant toe. He he he! Hie komme ding.

Niks. Nie ‘n piep nie. Of ‘n poep nie. Toggie, waar is die dêm ding. Wag, ek haal my sakdoek uit en maak of ek my neus blaas. Prrrt! Niks, die gogga is weg. Of is hy. Sê nou die ding is terug op my. Nee! Net nie dit nie! Nou hoe kyk ek op my rug met Anna Vorster langs my. Ek moet nou kies, nog ‘n klap op die oor, of ‘n gogga byt.

My hande is terug op die ruglening voor ons. Kyk Anna Vorster, my hande is hier. En daar is die dêm gogga. Nog altyd op die bolla. He he! Sy kyk my in die oë, toe kyk ek maar weer vir die dominee.

Ek sit nou weer langs Anna Vorster, want sy het my arm gevat en nader gesleep. So sonder dat die dominee sien. My hande nog steeds voor ons. Al jeuk my boude nou iets verskriklik, ek sal nie dit wegvat waar Anna Vorster dit nie kan sien nie. Nie nou nie. Ons het al gestaan en bid. En weer gesit. Gestaan en sing en toe weer gesit. Die dêm gogga nog steeds op die bolla. Miskien het ek hom net in ‘n koma geklap. Dalk word die dêm gogga nou nou eers wakker.

Oe, hier kom die kollekte bordjie, my geld is in my sak, ek het ‘n hele 75 sent gespaar vir die kollekte. Waar is daai sente nou … Aah! Bliksem! Ba! Teen die oor en daar lê ek. Donderse gogga met kollekte in haar nek in, en waar is my hande, nie net in my sak nie, maar daar waar Anna Vorster dit nie kon sien nie. Dêm gogga!

Nou ja, toe ons by die huis kom, en daai canopy van die bakkie gaan oop, kon ‘n vark met vaseline nie vinniger uit nie. Dit was net een ligstreep, vinniger as Mannetjies Roux, toe is ek agter die stoor. Hier sal ek bly totdat Anna Vorster bedaar. My dêm oor zoem nog die heeltyd. Dêm gogga! So sit ek maar en klippe gooi. Skiet die ganse met klein klippies. Ja en daar skiet ek een raak en nou is die hele spul aan die lawaai. Anna Vorster en haar ganse is soos die dominee en sy Sondagskool. Moet ek verder verduidelik? Bo-op die mieliesakke klink na ‘n goeie idee. Hier sal ek lê. Dis nou nog die ganse ook.

Dêm ganse. Dêm goggas.

Die Sondag raak nou kort. Moet nog huiswerk ook doen. Ag jis! Dit is sekerlik die sagste wat enige iemand nog die agterdeur kon oop en toe maak. Ek moet vyf-uur koshuis toe, en dan moet my Afrikaans en Wiskunde klaar wees. Ba! Eina bliksem! Daar brand my oor weer. Moes maar seker nie met my kerkklere op die mielie sakke gelê het nie. OK, nie met my gat op die turf by die gansdam nie.

Dêm turf! Dêm mielies! Dêm ganse! Dêm goggas!

El CaminoDie skaapboud is in. Die skottelgoed is gewas. My tas is gepak. My huiswerk is klaar … te sê. Nog 3 uur dan ry Anna Vorster dorp toe. Koshuis toe. Ag jis! Die El Camino is gewas en die bumpers is blink. Sal sommer hier rond wag vir Anna Vorster, sy klap as jy laat is. Sy wag nie. Alles is gelaai, die terte vir die dorpenaars in tamatiekaste, beskuit vir die koshuis, en groenmielies vir die koshuis-moeder. Daar gaat ons. Hok toe. Ag jis!

My tasse langs my, alles genoem wat ingepak is en ek kyk vir Anna Vorster in oog. Sy kyk my in die oog. Sy vat my my kop vas met altwee hande en trek my tot teen haar. Sy soen my op die bek en sê “Ek lief jou Jacobus Vorster”.

Daar gaat die El Camino. ‘n Groene. Ek kyk tot ek hom nie meer sien nie. Anna Vorster. Ai! Haar klappe brand, maar haar soene, jis, haar soene, so op die bek, dis darem net ‘n ma wat so kan soen.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar