Ja-nee

Ja-nee die gaan weer een van daai Kersfeeste wees. Droog. Niks familie nie.
Dankie tog!


Tant Hester de Wet, ja, van daai De Wet’s, sit weer en hekel op die stoep. Sy dink aan hoe hemels dit gaan wees sonder die kinders wat raas en skree in die strate. Sonder Kersetes vir hordes mense wat net eet en ry. Dan moet sy al die skottelgoed was.

Gmf, sy sal net die Kerskaartjies wegstuur en hoop niemand vra om te kom kuier nie. Asseblief tog nie.

Wonder watter kaartjies sy moet kry. Weer dieselfde soos altyd, of moet sy maar by die tye bly, en vir die manne die jaar een stuur met die maan op. Synde die Ingelse of miskien die Amerikaners die jaar darem op die maan geland het. Sou dit ook nie geglo het as dominee dit self vir haar gesê het nie. Die draadloos mense lieg darem verskriklik. Sy weet darem nie of die behuisingskema waarvoor sy R2.20 betaal het gaan vlam vat nie. Hoe gaan hulle haar meubelment darem op die maan kry. Daar is darem nog so ‘n paar jaar oor voor hulle klaar gaan bou. Sy sal maar wag. Hoop nie die Jood het gelieg nie.

So gesit en verdiep in die saligheid, ver gekyk tot wie weet waarnatoe, toe die verdompde Duitse gogga-kar of is dit nou weer … uhm, o ja! Kewer! Voor die stoep stilhou. As daar nou ‘n kar in die straat afkom is die kans om daar te stop nogal redelik goed. So dat die nou die enigste huis in die straat is.

Net nie die kinders ook nie. Seblief Jirre, net nie die kinders ook nie.

Genadiglik nie. Net die oudste en die se vrou. Ingelse dingetjie. Weet nie waar hy aan sy volksvreemdheid kom nie. Leer dan sommer die kinders krênma sê. Waar kom hulle vandaan?

Die kinders van vandag darem? Mens sou sweer noudat ons die sewentigs betree mense sal besef ons nader die einde. Lees die Bybel mense, lees die Bybel! Kyk na die tekens!

ou vrou op stoepHulle het gekry wat hulle wou hê en is nou vort. Nou weer rus en vrede. Koppetjie tee en ‘n koeksistertjie. Die wat sus Breda gebak het. Krom vingers die vrou darem. Kyk net hoe is die sistertjie gedraai, nie een soos die ander een nie. Geen respek vir ander nie, ek moes betaal by die kermis vir die goed. 15c ‘n dosyn. Skandelik!

Sal maar die kaartjies seker moet doen. Tog. Eers bietjie Wicks of iets vrywe tot die arteraaitis bietjie weg is. Kry klaar dan is dit klaar. Niks geld in die koeverte nie. Nie die jaar nie. Geld groei nie op mens se rug nie. Die pensioentjie gaan vir anner goete die jaar.

Een vir elkeen of een vir elke gesin? Sal maar sien hoeveel koeverte kry ek vir 35c, met die se stêmpies.

Een vir elkeen. Nou het ek vir myself moeite gemaak. Sal maar skrywe, ken tog die name en vane uit die kop uit.

Kan die posmense nie maar die koevertjies kom optel ook nie. Hulle lewer dan die goed af of jy dit nou wil hê of nie. Sal tog maar stap jong. Kan sommer bietjie heuning ook optel by Servaas. Hoop net nie hy raak weer aan die gesels nie. Praat oor alles. Die kinders. Die oorlog. Oorle Grieta. Dankie mensdom. Net gekoop en geloop. Die man lyk nie gesond nie, netnou moet daar sop gemaak word of iets. Jig. Hy hoes maar sleg. Hoop tog net die ou grootbek hou sy hand voor sy mond as hy met die heuning werk. Sies!

As Hendrik nou weer kom kuier sonder om daai hekkie te ghries … Die man met die pos los die ding ook sommer dat daai sprieng die ding toe klap. Eers die ge-ooik, en die ge-kwa. Geen respek vir ou mense nie. Ook maar goed Koos is oorlede, hy sou net gesit en swets het oor die geraas.

Almal het terug geskrywe. Hoe wil hulle hê mens moet deur die dag kom met soveel kaartjies om te lees. Dan nog met die fênsie handskrifte. O. ja, dan nog een in Ingels ok. Die tye darem.

So het die ouste toe vir sy moeder gekry. Op die stoel met die kaartjies in die hande. Darem respekvol. Nie met ‘n japon of iets nie. Skottelgoed was ook klaar gewas. Die Bybel oop op die leestafeltjie met al die kinders se kiekies. Die kleinkinders se kiekies ook. Die wat met die pos gekom het. Mooi gepak, kind by pa en ma. Gehekelde raampies vir almal. Van oudste tot jongste.

‘n Maand voor Kersfees ‘n begrafnis hou op Swartruggens. Baie karre in die strate. Kinders orals, in die tuin en tussen Koos se rose. Die hekkie skree ooik ooik sonder ophou. Nou nog nie geghries nie. Sus Breda se skewe koeksisters en Servaas se besmette heuning staan soos ornamente tussen die geelrys en hoenderboudjies.

Hopelik was hulle die skottelgoed voordat hulle ry.
En sit die draadloos ook af. Raas darem vreeslik in die nag.
Nou ja nee, hier sit ek nou ma wee en luister na Koos se swets.

Die tye darem.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar