Katlagter

Dis snaaks hoe mens woorde vir jare kan gebruik sonder om die vaagste benul te hê van wat die woord beteken.

So is dit met “katlagter”. My ma het my altyd vertel hoe ek nooit ‘n man gaan kry nie as ek lag soos ek lag, wat klaarblyklik soos ‘n katlagter is. Nooit, vir geen enkele oomblik het ek lank genoeg ophou lag om te wonder waarna sy verwys nie. Later jare het ek voortgegaan om my kinders te dreig met ewige maagdelikheid sou hulle veel langer die aardige geluide voortbring en dit lag noem.

Met die jare het ek darem ‘n vae beeld begin vorm van hoe “Katlagter” lyk. Ek het altyd geweet ek sou hom herken as ek hom sien: iets tussen die kat in Alice in Wonderland, die Joker in Batman, en Jaster – van wie ek julle by ‘n ander geleentheid meer sal vertel.

Nooit het ek kon droom dat ‘n katlagter ‘n Suid-Afrikaanse voël is wat blykbaar nie ‘n kans het om opgeneem te word in die Tygerberg Kinderkoor nie. Glo ‘n aardige geluid wat die voëls maak! Soveel so dat die Boere genoeg van ‘n ooreenstemming tussen hul voëlgesang en die geluid van ‘n masjiengeweer gevind het om die Britte se Maxim masjiengeweer “Die Katlagter” te doop.

Noudat ek weet ek lag soos ‘n masjiengeweer, voel ek skaam … ek gaan nie weer lag nie.

Kaalwangkatlagter
Kaalwangkatlagter

Lewer kommentaar

Leave a Reply