Die eise wat grootwordjare op die Kaapse Vlakte aan mense stel is vir nie-inwoners van die gebied grootliks ´n geslote boek. Kirby van der Merwe skryf in Klapperhaar slaap nie stil nie dié wêreld oop – ´n wêreld van armoede, onkunde, oneerlikheid, geweld, gebrek aan respek, gangsters, die muwwe reuk van paraffien en ´n klapperhaarmatras waarop kinders snags moet lepellê.
Identiteit, middelklasaspirasies, bendegeweld – en liefde – kom ter sprake in dié boeiende debuut. Die tweespalt in Kinta Januarie, suksesvolle beroepsvrou wat haar met moeite losgemaak van haar eenvoudige agtergrond en familie, word op die spits gedryf deur haar pa se sterfbed waar sy met die pynlike verlede gekonfronteer word.
Kinta besluit om van dié wêreld te ontsnap. Sy studeer, word prokureur en kruip weg in ´n wit buurt waar sy van twee pynlike verhoudings en haar agtergrond probeer herstel.
Maar sy word nie toegelaat om te vergeet nie. Die pa wat sy nooit geken het nie lê op sterwe en ´n onsmaaklike halfbroer spoor haar op. Hy is nou ´n welvarende evangelis en gaan Kinta nie toelaat om haar vir haar familie te skaam nie.
Kinta se nagmerrie begin van voor af en Kirby van der Merwe skryf met skerp, beskrywende taal, waarin sy digterlike vermoë na vore kom, haar trauma oop.
Kirby van der Merwe is ´n oud-kunsonderwyser wat in die Wes-Kaap woon. Sy Klapperhaar slaap nie stil nie word deur Kwela uitgegee.

