‘n Briefie vir Oom Koos Dup

Oom Koos, ek kla.
Hierdie yster-en-glas gekkeparadys is koud.
Yskoud.
Sy swart en wit gestreepte are pomp net ellende in en in en gee nie kans vir uit.
Stroomop is moeilik oom, maklik om te verdwaal in die woud.

Hierdie androïede met hulle koffie-gate in die koppe,
Daardie soetkoek voergate met net twee doele:
In vir voer, soos battery-poppe,
Uit vir breek, soos buffels op glas-stoele.

Ek voel koud. Yskoud.
Tot op die been.

Oom Koos, ek verlang na dieselfde goed.
My lense soek, nee, smag na ‘n bietjie groen soos goud.
Regte groen. Soos Genesis se paradys groen. Adam en Eva se groen.
En blou. Skoon blou. Soos edelsteen.
My ore soek stil. My lyf soek stil.
En koelte … Stil koelte. Onder ‘n wilger se koelte.
Of populierbos koelte.
Dit is anders as beton-koelte.
Beton keer net die son. En vries jou hart.
Dit maak jou gedagtes koud. Jou gees koud. Dood. Swart.

My kop weet watter kant toe om te draai.
My knie kan in die regte rigting buig.

My weet is koud. Ek moet nou net raai.

Ek het ketting om my eie enkels geslaan. Hulle gebind. Vasgeslaan. Gewoond gemaak aan die onbybelse tuig.

Ek soek koffie. Ek wil soetkoek hê.
Ek is ‘n androïed.
Ek.
Ek is yskoud.

letter a

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar