Dit is die jare sewentig en saam met bittersoet popdeuntjies en Springbokradio-vervolgverhale sak ’n donker wolk oor die land.
Wanneer die brandpyn in haar dy opskiet en sy die warm bloed teen haar been voel afloop, slegs dan voel dit vir haar asof sy beheer kry oor die chaos wat dreig om haar te oorweldig. Helena veg teen die verswelgende oortuiging dat sy na haar pa aard, dat sy van al vyf hulle kinders die meeste na haar dronklap-, chauvinsitiese polisieman-pa aard. En nadat sy een nag moes aanhoor hoe haar pa haar broer met die vuis toetakel omdat hy nie na wense op die rugbyveld presteer het nie, gaan haal sy die rewolwer waar sy dit weggesteek het.
Daardie rewolwer wat haar pa oënskynlik in ’n dronk waas aan haar gegee het. Sy voel die koel, swart staal en loop in die donker gang na haar pa-hulle se slaapkamer. ’n Oomblik lank dink sy nog aan die mooi man wat sy eendag by ’n lamppaal sien staan het, die engel wat haar enkele mooi droom lewend hou, en stoot dan die kamerdeur oop …
Gerda Taljaard se debuutroman, ’n tragikomedie wat die leser dompel in ’n maalkolk van wanhoop en byna waansinnige humor, gaan oor die selfverwesenliking van ’n jong vrou. Op ’n verbluffende wyse wys Taljaard aan haar lesers dat die lewe so verskriklik en terselfdertyd so mooi kan wees.

(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)
