’n Vlugtog terug in die arms van die bose

Van Skoolbank tot Bordeelbed
Van Skoolbank tot Bordeelbed
Gebaseer op ware gebeure van Elanie Kruger se lewe, handel Van Skoolbank tot Bordeelbed oor Engela, ‘n skoolkind wat na ’n rampspoedige aand van ‘n satanistiese groep vlug. Sy eindig helaas op by ’n bordeeleienaar wat haar by haar broer se vriend gekoop het.

Tydens haar lewe in hierdie besigheid, ontmoet sy “kollegas,” “kliënte” en “base” wat, anders as sy, uit vrye wil by hierdie klub werk. Dit is duidelik hoe Jaco Hough-Coetzee elke hoek en perspektief van ’n onwettige besigheid, hul sukses en die mense betrokke, oopvlek deur middel van die verskillende karakters en hul stories.

Die boek is in twee dele verdeel: ’n nie-fiktiewe roman, en ’n joernalistieke verslag deur die stem van Elanie Kruger self. Die eerste deel wissel tussen hoofstukke wat afsonderlik handel oor Engela se (haglike) kinderlewe, haar vlugtog van die satanistiese groep, en hoofsaaklik haar ervarings op die bordeelbed. Coetzee se taalgebruik en beskrywings ontvoer die leser saam van kliënt tot kliënt, jy verloor selfs ook tred van tyd en dag.

Tydens Engela se ontsnapping voel die leser of sy weer kan asemhaal, totdat Kruger jou weer stywer vaspen met die tweede deel se taboe gespreksonderwerpe. Dit laat die leser weer besef dat die verhaal wat nou net gelees is, ’n ware verhaal was. Dat hierdie verhaal, ook maar slegs een van die honderde stories is wat vertel kon word. Verder vertel sy oor al die gebiede en hul onderlangse sekshandel. Gebiede so bekend soos Soutrivier en Johannesburg; waar die meeste modelagentskappe is en waar inwoners bloot ander kant toe kyk wanneer daar ‘n onderhandeling plaasvind. Sy vertel die leser van hoe sy as slagoffer besluit het om ’n publieke spreker te word en saam met bekendes soos onder andere Nico Pandagio saamwerk om bewustheid oor die kwessie van seksslawerny te versterk, want sy besef dat sekshandel feesvier as gevolg van mense se onkunde en blindheid.

Beide dele van die boek tref die leser ewe hard, op ’n afsonderlike manier. Coetzee en Kruger ontnugter en onderrig die leser met die koue werklikheid van die besigheidswêreld. Hulle gee ‘n stem aan die wat nie wou praat nie, wat nie kan praat nie, en wat dalk nooit die geleentheid gehad het nie. Die taalgebruik en skryfwyse is vir almal toeganklik en ‘n aanwins in enige huishouding: ouer en kind, manlik en vroulik. Van Skoolbank tot Bordeelbed leer oor gebroke huishoudings en jou verantwoordelikheid as ouer. Aan die ander kant wys dit vir kinders dat “wat nie met hulle sal gebeur nie” tog met enige iemand kan gebeur, en selfs in ’n plek so naby soos jou bure se huis.

Van Skoolbank tot Bordeelbed / Jaco Hough-Coetzee met Elanie Kruger — Delta Uitgewers, 2015. ; sagteband. — ISBN 9780908387526

Van Skoolbank tot Bordeelbed,
Bea Lingenfelder,
29 September 2015.

3

Lewer kommentaar

Leave a Reply