Die Waarsêer

Die Waarsêer is meer as net ‘n storie. Dis gegrond op ware gebeure wat in die laat 1950’s op die klein dorpie Amersfoort afgespeel het. Dis die verhaal van Kiewiet Vogel (gespeel deur David Rees), ’n middeljarige dronklap wat sy brood verdien deur los werkies te doen. Dit bring mee dat hy oral in dorpenaars se huise kom en waar hy ook al werk, kom hy mense se geheime agter. Niemand steur hulle egter aan Kiewiet nie, want hulle onderskat sy intelligensie en waarnemingsvermoë.

Die Waarsêer
Die Waarsêer
Dan word Kiewiet se sinnelose en droomlose bestaan ingrypend verander wanneer die sirkus dorp toe kom en hy skielik deur `n skynbaar toevallige sameloop van omstandighede hom in die rol van die sirkus se waarsêer bevind. Vermom met ‘n tulband en baard, weet niemand dis Kiewiet nie, maar hy ken almal – en hy ken hulle geheime. Dit plaas hom in ‘n magsposisie wat hy begin gebruik, soms met skreeusnaakse gevolge.

Ook Kiewiet bly nie onaangeraak deur die gebeure nie. As waarsêer word hy vir die eerste keer ernstig opgeneem deur die gemeenskap. Hy ontdek sy eiewaarde wat meebring dat sy lewe onherroeplik verander. Deur Kiewiet se katarsis word sekere universele lewensbeginsels subtiel oorgedra. Die stuk is gesinsvriendelik en ouers kan met vrymoedigheid hulle kinders saamneem.

Die Waarsêer word tussen 6 en 10 Oktober by Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom opgevoer. Besprekings by Computicket.

Met: David Rees, Hannes Brümmer, Neels Clasen, Heidi Mollentze, Anna Davel en andere.
Regie: Neels Clasen
Teks: Barry van Rensburg

Lewer kommentaar

Leave a Reply