Op die wal

Dit wil so amper vir my lyk of die dam se wal bietjie kleiner is. En die bome ook. Baie kleiner as wat ek kan onthou.


Maar dit ruik nog dieselfde. Pure plaas. Bees mis en al. O ja, en die rook uit die skoorsteen. Mmmm, wat brou die vroumense daarbinne. Nostalgie klap my op die bek soos ‘n scaffolding plank. Ba! My tande bewe eintlik.

Die tyd stap aan, mensdom. En vinnig ook. Kyk waar staan ons vandag. Sal nie sê dat ek 17 jaar laas op die plek gestaan het nie. Soos die outop altyd vir my gesê het, “tyd speelie, hy vat vas”.

En oupie was reg. Het my behoorlik vasgevat. En vir oupie weggevat. Ja wat. Terugkyk kan mens seker nie. Nou te laat vir “ek moes maar”. Demit.
728. Dis hoeveel kilometers ek van hier af bly. Ek maak nie verskonings nie. Ek sê net. Sodat oupa weet. Oumie sê dat sy hier op die wal met oupie praat. So nou traai ek ok maar. Flippit, sorrie oupa. Ek wou regtig al weer kom draai het. Maar so dat julle elke nou en dan daar by ons kom draai het, het ek gedink … wel … seker maar nie so lank tot ek julle weer sien nie. Dis nou waar ek mis gedink het. Ek’s seker oom Loutjie sal die plaas mooi kan vasvat. Hy was mos meer as gereeld hier. Hy moet net minder suip. En nie so met tant Miena praat nie. Dan is hy seker maar oraait.

Die mechanic joppie is ok oraait. Betaal nie bad nie. Het darem vir my en die boyfriend kos. Hy sukkel maar na die drugs storie. Hy’s nou amper drie maande uit. Klaar werkie gekry by die scrapyard. Hy weeg die ysters wat inkom.

Ek gaan my sweep saamvat as dit oukei is. Sal hom maar goed dubbin smeer. Eers stoom en dan dubbin, amper vergeet ek. En die kiekies ook. Die van waar ons hier gesit en viste gevang het. Daai skelm kiekies wat ouma gevat het. En dan wil ek oupie vra, kan ek assblief net ‘n can fruit-botteltjie grond saamvat. Seblief oupa. Ek wil dit op my TV sit. Dat ek elke aand as ons eet dit kan sien. Ek sal die gaatjie weer gelyk maak dat oom Loutjie dit nie sien nie.

Oom Kalla en oom Apie wou ook begrafnis toe kom, maar vlieg duiwe die naweek op Boshoek. Seker maar goed so, anders het hulle wragtig duiwekaste gepak.

Ek het so bietjie gekyk na oupie se bakkie. Sy carburetor bietjie skoongemaak, nou loop hy weer. Die niggies kyk my nog altyd snaaks. Dis nie my skuld hulle kannie ploeg nie. Moes saam geleer het toe oupie vra. 17 jaar. Jis oupie, dis lank. Maar ek weet nog waar die varke se kos is en hoe om die stoor deur reg te trek sodat die dêm ding kan toe. En ek kan onthou waar oupie altyd kom staan en bid het. Net hier. By die kremetartboom op die wal. Die ou stomp is al vrot, so ek ons kan nie meer op hom sit nie. Vol rysmiere.

Die koöperasie oom was ook hier vandag. Sê vir almal hoe die plaas alles net cash gedoen het. Niks oppie boek nie. So het ek geleer, niks oppie boek nie. Nie by die bure nie en ook nie by die kêffie nie.

Die klomp skree vir kom eet. Sal seker moet gaan. Weetie of ek gou weer kan kom draai nie oupie. Sal maar seker moet koebaai sê. En … dankie oupie. Dankie vir die can fruit-bottel grond ook. Sal oupie nooit vegeetie.

Koebaai.

damwal

(foto David Wild)

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar