Rêrig?

Terwyl ek regmaak vir werk, hoor ek oor die radio dat die N2 al weer vir motoriste gesluit is. Nog ‘n protesoptog.

Nog ‘n ritmiese dans van brandende bande en vlieënde klippe.

Honderde mense op pad werk toe, word versoek om van ‘n ander roete gebruik te maak. Nuusbronne is onseker waaroor hulle vanoggend ongelukkig is. Net dat hulle amok saai en gate in die teer brand. Gate wat belastingbetalers, wat nou laat by die werk gaan opdaag, se geld sal regmaak.

Onthou ek my ma se woorde, “oom Paul het belowe dat dinge beter sal gaan, hy’t net nie gesê wanneer nie …”

Verstaan ek nie waarom gewelddadige persone, wat boonop eiendom beskadig, nie summier van die pad verwyder word nie. Dat hulle daagliks hiermee wegkom nie. Ek begryp nie.

2011 Munisipale staking in Kaapstad.
2011 Munisipale staking in Kaapstad.

Gepraat van gate in die stelsel, dink ek nou aan die vele regte slaggate op die paaie hier in die Helderberg.

Hierdie slaggate word van tyd tot tyd opgevul, maar dis ‘n tydsame storie: ‘n Span werkers word uitgestuur. Een of twee vertoef om die gat. Hulle het pikke en grawe om hulle regop te hou. Die meerderheid staan doelloos en swaai rooi en groen vlae. Links en regs. Op en af, nes die gier hulle vat. Met die opeenhopende verkeer het hulle vrede. Die res lê en rus in die son op die sypaadjie.

Hulle werk in skofte.

Wanneer die gat mooi opgevul is, word nog teer bo-op gesmeer. Soos wanneer jy té veel versiersuiker op ‘n kolwyntjie plak?

Dit hou tot die volgende groot reënval, wanneer hierdie homp versiersuiker wegsmelt om ‘n dieper gat te los. Nes ‘n tand wat sy vulsel verloor en vir die tweede keer gevul moet word.

Hierdie proses hou verband met werkskepping.

Wanneer hulle nie slaggate regmaak nie, bou hulle spoedwalle. Van daai hoёs. As mens nie amper tot stilstand kom voor jy oorry nie, sal jou uitlaatpyp gou soos ‘n vergieter lyk. Het al in die stilte gewonder of die munisipaliteit en die uitlaatpyp plekke ‘n ooreenkoms het.

Ja, … ‘so ry die boere sit-sit so,’ is nou inderdaad ‘so ry die belastingbetalers hop-hop so.’ En niemand sê ting-e-ling-e-ling of hoera nie.

Nou onlangs het Gordonsbaai rylaan voetoorgang-robotte ryker geword. ‘n Klompie van hulle is blindelings al by die pad af geplaas. Hier of daar? Gemiddelde-spoed kameras pronk hoog bo-op elke lig. Jy mag nie vinniger as 60 km per uur op hierdie oop dubbelbaan ry nie.

Dis eerstens ‘n poging om die mense wat oorkant die pad van die see woon, veilig oor die straat te kry. Sinneloos, want die mense wat nou besope in hulle onderklere oor die pad ploeter, gaan nog steeds besope in hulle onderklere oor die pad ploeter. En hulle honde het nie ‘n keuse nie. Word met ‘n tou of ‘n draad om hulle nekke oor die pad saamgesleep. Die wat wel die robot knoppie druk, stap nie oor die pad nie. Hulle hardloop weg en skuil agter bosse, lag hulle oor ‘n mik vir al die gefrustreerde motoriste wat moet wag dat niemand oorloop nie.

Die kameras is daar om die toenemende drag racing wat snags plaasvind, die hok te slaan. Sinneloos, want daai karre het nie nommerplate nie. Andersins is die plate vol weerkaatsende blinkertjies geplak.

Ai en ons wag al so lank vir ‘n robot by die Gordonsbaai Pick ‘n Pay se oorgang. Daar gebeur gereeld lelike ongelukke … maar helaas.

Wonder hoekom daar nie ten minste ‘n sirkel gebou word nie … maar dan kom sirkels seker weer met hulle eie kopsere. Baie mense weet mos nie dat ‘right of way’ eers in werking tree as jy die sirkel betree nie.

Daar is ook mense, hiér, waar ek woon, wat nie weet of jy ‘clock wise’ of ‘anti clock wise’ om ‘n sirkel beweeg nie. Nou die dag nog ry ek om die Woolworths sirkel by die Mall, toe ‘n ou tannie aan die teenoorgestelde kant die sirkel van regs vat. Sy vervies haar vir my wat in haar pad is. Lê op haar toeter. Ek sien net haar grys kop en die middelvinger bo die stuurwiel uitsteek.

Die parkeerarea is daai dag stampvol. Ek ry om en om vir ‘n staanplek. Sien truligte. Sit my flikkerlig aan. Die karwag skrik wakker, beduie met swaaiende arms dat hy die plekkie vir my gevind het. Dan van nêrens pyl dieselfde ou tannie van vroeër op ons af. Sit sy haar flikkerlig aan. Wys vir my om te skarrel. Ek kruip vorentoe. Oud of nie, êrens moet mens ‘n streep trek.

Ek kyk na haar kar. Dis vol stampe en skades en skandes.

Sy rol haar ruit af. Steek haar arm ver uit en wapper ‘n oranje papiernoot in die wind. Die karwag se bene neem lang treё na haar kar. Hy gaan staan, met sy rug na my gekeer, voor my kar en begelei die tannie die duur parkeerplek in.

Rêrig?

Ek ry liewer, voor ek iets onbesonne aanvang. Soos ‘n poging tot ernstige aanranding. Dubbele moord.


Net gister nog het ek mos geleer dat mens sekere dinge eerder moet los.

Ek wou in die gemeenskaplike kombuisie by die werk ‘n glas uitspoel. ‘n Skoonmaakster lê met haar elmboë op die wasbak en skottelgoed was. Haar vingers speel met die hoё berg seepskuim.

“Goeie môre!” groet ek. “Eh. …?” “Good morning,” probeer ek Engels. Iets registreer. “Do you work here every day?” knoop ek ‘n geselsie aan.

Sy lig albei haar seephande uit die water. Gekreukelde vingertoppe. Gebruik sy die een hand se vingers, om met die ander hand se vingers, vir my te antwoord.

“Eh …,” vat sy haar duim vas. “Eh … Monday.” Duimpie se maat word platgeslaan dat die skuimvlokkies spat. Kry sy vir langeraat beet. “Eh … Wednesday,” knik sy haar kop.

“Ah, you work here on Mondays and Wednesdays?” “Yeees,” antwoord sy, duidelik gelukkig dat ek die lig sien.

Ek los dit toe nie daar nie en bederf alles.

“Today is Thursday?” bevraagteken ek haar.

“Yeeees …”

Sluit aan by die Gesprek

2 Kommentare

Lewer kommentaar

Leave a Reply