Stoffel in die wildernis

Daar is nog afgeleë wildernis-gebiede in Suidelike Afrika, ´n feit wat mens geneig is om te vergeet as jy elke dag die gewoel van die stad moet hanteer. En in Christiaan Bakkes se Stoffel in die wildernis beleef mens saam met hom die bekoring en gevaar van dié gebiede. Hierdie veldwagter-verteller se verhale van mens en dier beeld met soberheid en eenvoud, maar ook met fyn ironie en teruggehoue emosie, die lewe in Suidelike Afrika se wildernisgebiede soos die Kaokoveld en die Caprivi uit.

Dis ´n harde lewe van eensaamheid en afsondering, maar ook een waarin die betowering van die landstreek ´n houvas op die mens kan kry, ´n houvas wat in sommige gevalle vernietigend kan wees.

Die vertellings is gebaseer op werklike ervarings en gebeure wat die skrywer beleef het as jong veldwagter in die Kaokoland en die Caprivi. “´n Baasverteller” noem Willem M Botha hierdie skrywer in sy resensie van Bakkes se debuutroman, Die lang pad van Stoffel Mathysen.

Die Burger het ook heelwat lof gehad vir Bakkes se debuutroman: ” . . .´n avontuurbelaaide natuurverhaal, bestem vir jonk en oud – onpretensieus, onderhoudend en verrykend vir letterlik enigeen wat kan lees.” Die Volksblad noem hom “´n opwindende nuwe talent” en Beeld sê “. . . Bakkes (het) vroeg in sy skrywersloopbaan ‘n belangrike kuns bemeester: die kuns om die leser nuuskierig te hou.”

Stoffel in die wildernis word uitgegee deur Human & Rousseau.

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Lewer kommentaar

Leave a Reply