Perd oor die maan

Laurinda Hofmeyr is geen onbekende in Afrikaanse musiek nie. Verskeie kunstenaars, onder andere Laurika Rauch, het oor die jare van Laurinda se werk opgeneem. Haar toonsettings van Ek het ‘n huisie by die see, Voortaan (vir ‘n pepermossie) en Kabouterliefde het veral so bekend geword.

Laurinda se debuut-CD Perd oor die maan het ‘n ruk gelede verskyn. Sy sing daarop haar eie verwerkings van Afrikaanse gedigte. Die cd word gekenmerk deur interessante verwerkings en die inherente ritme van die gedigte word met musiek verder ontgin. Van die gedigte, onder meer “Trekeend” van R K Belcher en “‘n Kleindorpse fragment” van Sheila Cussons is spesifiek getoonset vir die dramaproduksies Vespers en Skeer op Richmond.

Van die land se voorste rockmusikante soos Adriaan Brand van die Springbok Nude Girls, Schalk Joubert – bekend as baskitaarspeler vir onder meer Valiant Swart, Koos Kombuis en Gert Vlok Nel – en Jürgen von Wechmar – kitaarspeler en produksieleier – staan Laurinda op haar cd by. Adriaan se verwerking vir strykensemble op die snit “Trekeend” en Schalk se baskitaarspel op ‘n snit soos “Januarienag” dra in ‘n groot mate by tot Perd oor die maan se unieke karakter.

Dit is ‘n kombinasie van Afrikaanse poësie, Laurinda se klassieke agtergrond en die invloed van rockmusikante wat sorg vir Perd oor die maan se besondere eietydse klank. Laurinda het die graad B MusEd.Hon aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy gee musiekonderrig en woon in die Paarl in die Boland.

(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar