Swart Woensdag

Woensdag 15 Maart 2006, sal sy vir altyd onthou as swart Woensdag. Die dag het gewoon begin. Sy het omstreeks vyfuur wakker geword, na buite gegaan en God gedank vir die wonderlike dag. Net toe sy teruggaan in die huis, hoor sy iemand agter haar op die gruis. Voor sy kan omkyk, voel sy ‘n hou teen haar agterkop en word ‘n lap oor haar mond en neus gedruk, en dan is alles pikswart.


Toe sy weer van haar omgewing bewus word, is dit stikdonker. Sy kan nie dadelik onthou wat gebeur het nie, en het geen benul van waar sy is nie. Haar agterkop klop en toe sy met haar vingers versigtig haar kop ondersoek, voel sy dat haar hare nat en taai is. Sy luister aandagtig of sy iets kan hoor wat haar kan vertel waar sy is, maar dit is grafstil. Sy lê vir ‘n hele rukkie doodstil.

Dan begin sy in die donker om haar rondvoel. Sy lê op ‘n koue betonvloer wat lanklaas gevee is. Dit lei sy af van die sand op die vloer en die feit dat daar nie lasse is in haar onmiddellike nabyheid nie. Sy probeer onthou waar sy was voor hierdie donkerte, maar al probeer sy hoe hard, sy kan net onthou dat sy vroeg wakker geword het en toe na buite is, verder niks. En nou is sy iewers op ‘n onbekende plek en dis donker. Sy draai versigtig om op haar maag, kom op hande en voete te staan en staan dan op. Sy skuifel voetjie vir voetjie vorentoe met haar hande voor haar uitgestrek. Na wat vir haar na ‘n ewigheid voel, voel sy ‘n ongepleisterde muur voor haar. Haar oë het intussen aan die donker gewoond geraak en die swart duisternis het nou skakerings van grys geword. Sy volg die muur na links, sien-voel dat daar ‘n hoek is en toe sy om die hoek gaan, sien sy ligskrefies rondom ‘n deur aan die einde van ‘n gang.

Sy voel skuifel-skuifel met haar voete om haar op die grond rond. Toe sy teen iets skop, buk sy af. Dit is ‘n los baksteen. Sy skuifel aan tot by die deur. Die klein ligkolletjie aan die een kant is duidelik ‘n sleutelgat. Sy voel na die deurknop, maar net toe sy dit wil probeer, hoor sy stemme. Sy versteen.

‘n Growwe manstem vra: “Are you sure you did not kill her?” “And so what if I did,” antwoord ‘n ander stem. “You are stupid if you think her brother will comply if we cannot send a picture of her, and she still in good health at that. Check on her while I go and deliver the letter to Karel.”

Na ‘n rukkie hoor Karmen ‘n motorenjin. Sy het intussen op haar hurke met haar rug teen die muur net langs die deur gaan sit. Sy sit nog ‘n rukkie doodstil, maar dan begin ‘n plan vorm aanneem. Sy voel rond en kry ‘n hele klompie bakstene naby die deur. Sy dra hulle na die deur en pak ‘n stapeltjie aan weerskante van die deur. Sy haal haar kamerjas se gordel af, maak elke punt om ’n baksteen vas en span die gordel so tussen die stapeltjies bakstene. Dan vat sy ‘n baksteen in elke hand en gaan ‘n paar treë terug in die gang. Sy begin oorverdowend gil en skree. Toe die deur skielik oopswaai, hardloop sy blindelings vorentoe en gooi die baksteen in haar linkerhand na die figuur wat afgeëts is teen die straatlig voor die deur. Sy tref die man wat aangehardloop kom teen die kop net voor hy oor die gordel struikel, en toe sy die volgende oomblik by hom kom, vat sy die baksteen in haar ander hand en gee hom nog ‘n hou oor die kop. En dan is sy buite in die vars lug.

Swart WoensdagSy hardloop tot by ‘n klomp struike, duik onder hulle in en begin die omgewing bespied. Sy sien dat die gebou waarin sy was, skynbaar ‘n buitekamer of stoorplek is aan die agterstraat van ‘n besigheidsperseel. Daar is nie ‘n omheining nie – gelukkig – en dus ook nie ‘n hek nie. Gelukkig dra sy altyd praktiese nagklere wat net sowel sportdrag kon wees. Sy sien ‘n leë plastieksak tussen die takke, trek haar kamerjas uit en sit dit daarin. Sy sit nog ‘n rukkie, maar dink dan daaraan dat die skurk enige oomblik kan bykom of dat sy maat enige oomblik kan terugkom. Sy sal maar moet waag en onder die struik moet uit as sy wil probeer om verder weg te kom.

Sy stap straat af. Verbygangers kyk nuuskierig agterna na die vrou alleen in die donker in ‘n kortbroekie en toppie en kaalvoet. Sy het met haar vingers haar hare probeer netjies maak en die taai koek op haar agterkop probeer losmaak sodat dit minder opsigtelik is. Baie straatblokke verder sien sy ‘n petrolstasie met badkamers. Sy stap in en probeer om verder die spore van die pakkamer weg te was. Dis ‘n verligting dat sy ten minste tussen ander mense is.

Toe sy buite kom, sien sy ‘n polisievoertuig voor die deur geparkeer. Sy gaan dadelik tot by die beampte wat buite die voertuig staan. Die aanvanklike irritasie wat sy in die beamptes se gesigsuitdrukkings sien, gaan nie ongemerk by haar verby nie, maar sy besef dat sy baie verdag voorkom. En toe sy vra in watter dorp hulle is, word die atmosfeer nie minder gespanne nie. Kempton park – nou ja niks maak in elk geval sin nie.

Sy vertel die gebeure soos sy dit onthou en wys die wond op haar agterkop ter stawing van haar storie. Die beamptes raak betrokke, vra baie vrae totdat hulle oortuig is dat daar meriete in haar storie is.. Sy besluit eers om vir Karel te kontak. Nadat hulle vergeefs vir Karel probeer kontak het, skakel hulle uiteindelik die hospitaal op Witbank, waar sy werk en wat haar identiteit voorlopig kan bevestig.

Sy bring die hele oggend in die polisiekantoor deur met verklarings, vingerafdrukke en ‘n besoek aan die distriksgeneesheer. Sy moes ook saam met die polisie ry om te probeer vasstel waar sy gevange gehou was. Maak egter nie saak hoeveel keer hulle agter die besighede verbyry nie, sy kan maar net nie die struik waar sy geskuil het, herken nie.

Intussen het die polisie hulle kollegas op Witbank geskakel en hulle gevra om na haar huis te gaan om vas te stel of daar nie ingebreek is nie. Hulle het ook maar hulle hande vol, maar aangesien sy nou veilig is, kan hulle seker maar later gaan kyk.

Eindelik kan huis toe gaan en kan sy een van haar vriende skakel. Sy besluit om Dimitri te skakel aangesien haar vriende in Pretoria veel verder sou moes ry en dan nog weer huis toe moes ry na sy afgelaai is. Dimitri is onmiddellik die ene besorgdheid, vra oor en oor of sy ongedeerd is. Nadat hy self met die polisie gepraat het, om seker te maak dat hy die polisiekantoor sal kry, belowe hy om haar dadelik te kom haal.

‘n Vrywilliger dra vir almal koffie en tee aan en toe sy van Karmen se storie hoor, bring sy vir haar ‘n tydskrif om die tyd te om te kry terwyl sy vir Dimitri wag. Haar gemoed en gedagtes is egter so vol dat sy glad nie inneem wat sy sien en lees nie, sy blaai net sporadies bladsye om. Sy wonder of die Witbank polisie na die huis was nadat Kempton park met hulle gepraat het. Waar is Basjan, haar hond, wat is alles gesteel, of was die hoofdoel om haar te ontvoer. Het hulle by die tyd vir Karel gekontak, hoekom antwoord hy nie sy selfoon nie, of het hulle hom ook ontvoer.

Opeens roep die bevelvoerder haar weer na sy kantoor. Die Witbank polisie het ‘n man by haar huis gekry. Volgens hulle beweer hy dat hy haar broer is. Sy moet hom vir die polisie oor die foon beskryf. Daarvolgens kan dit hy wees, maar sy kan nie met hom praat nie. Die polisie beveel haar om Dimitri te skakel en hom te sê dat hulle haar self tuis sal besorg. Sy doen dit. Dimitri is baie teleurgesteld, maar het gelukkig nog nie ver gery nie. Sy kan nie verstaan waarom die verandering in hulle plan van aksie nie.

Na ‘n klein rukkie is hulle op pad. Haar kop het weer begin klop en sy is spyt dat sy die pynpille van die hand gewys het. Sy moes ingeslaap het, want toe sy weer sien, staan die koeltorings naby Witbank regs van die pad teen die horison. Sy kan nie wag dat hulle die afrit neem nie. Sy begin gretig solank die pad beduie. Dan is hulle opeens voor haar huis. Die tuin is vol polisievoertuie. Al die bure is voor hulle huise en tuur nuuskierig in die rigting van haar huis. Tot haar verbasing is Herman, die superintendent van die hospitaal, ook daar.

Herman loop haar tegemoet en begin nog voor die polisie met haar praat. “Karmen ek was al met jou in moeilike omstandighede. Ek weet jy kan sterk wees. Dit is weer tyd om sterk te wees.”
“Herman sê my wat is verkeerd, is dit Basjan?” Herman skud sy kop. Hulle stap tot voor die huis. Die polisiebeampte by die voordeur laat haar deur en vra dat sy die bevelvoerder sal volg. Sy besef dat hy deur die huis, waar niks uit plek is nie, stap. Dan stap hy na die buitekamer. Sy steek in die deur vas. Die chaos is bykans ongelooflik. Oral is bloedkolle en bloedspatsels.

“Nee! Nee!” kreet sy dit uit toe sy besef hoekom hulle haar gevra het om Karel te beskryf. Maar hy het tog vir hulle gesê hy is haar broer – hy het toe nog gelewe. Waar is hy? Dan sien sy die buitelyne wat die posisie van ‘n liggaam aandui, half agter die deur. Dit was te veel. Vir die tweede keer binne twee dae word alles swart en stil.

‘n Paar minute later word sy wakker en hoor Herman sê: “Julle sal haar moet tyd gee, dit lyk of sy naby breekpunt is. Na wat julle my oor die telefoon vertel het, is dit glad nie vreemd dat sy flou geword het nie. Dit is die liggaam se veiligheidsklep wat in werking tree wanneer dinge eenvoudig te veel raak.”
“Ek sien jy is weer met ons, mevrou. Jammer dat ons jou nie voorberei het nie, maar jou reaksie was belangrik. Jy moet erken, jou broer se liggaam in jou buitekamer, kan op baie maniere interpreteer word.”

“Ek verstaan.” Is al wat sy saggies uitkry. Dan begin haar kop egter oorneem oor haar hart. “Ek onthou nou net wat ek gehoor het toe ek in die ‘stoorkamer’ toegemaak was. Ek kan nie onthou of ek dit in my verklaring aan die Kempton park polisie genoem het nie. Ek het ‘n man hoor sê dat hy ‘n brief vir Karel wil aflewer.”
Die speurder wat intussen opgedaag het, is onmiddellik die ene ore. Hy stap na die Kempton park polisie en begin ‘n ernstige gesprek met hulle.
“Het julle sy sakke deursoek? Was daar enige briewe, notas of so-iets?” “Nee kaptein. Maar hy het vir ons sy naam gesê en wou weet of sy suster veilig is. Ons kon egter net sy naam uitvind voor hy sy bewussyn verloor het.”

Sy kry toestemming om te gaan stort en skoon aan te trek. Sy neem ‘n warm bad in plaas van stort en raak byna onmiddellik in die bad aan die slaap. Toe sy wakker word, is die water yskoud en hoor sy iemand angstig by die deur roep. Dit is Herman. Al is hy nie altyd so toegewyd ten opsigte van sy beroep nie, bly hy in wese geneesheer en is opreg bekommerd oor haar welstand. Sy verseker hom dat sy wel is, al sit die trane maar vlak. Sy beweeg en handel egter soos een wat nie heeltemal wakker is nie. Die nag se gebeure is besig om sy tol te eis.

Toe die speurder boonop dadelik met sy ondervraging wil begin, keer Herman beslis, hoewel sy gewillig is om op sy vrae te antwoord. Hulle maak ‘n afspraak vir die volgende oggend en verseker haar dat hulle iemand stuur om die nag ten minste die huis dop te hou.

Eindelik het die polisie die buitekamer gesluit en tydelik verseël. Hulle maan haar om nie die motor te gebruik nie, aangesien die oprit nog vir bandafdrukke ondersoek moet word. Hulle sal voorlopig ook vir ‘n wag by die hek voorsiening maak, om seker te maak dat die moordtoneel behoue bly. Sy mag dus gaste ontvang mits hulle met die beton paadjie binnestap.

Toe die laaste motors met polisie weg is, en sy begin aan die kant maak in die kombuis, besef sy dat sy nog nie vir Basjan gewaar het nie. Sy kyk eers in al die vertrekke en roep en fluit, maar sonder resultaat. Sy stap na buite en raak nou regtig bekommerd. Toe sy naby die motorhuis verby stap, hoor sy iets. Sy gaan haal die sleutels en dan kry sy vir Basjan – toegesluit, halfdood en bebloed. Al waaraan sy kan dink, is om maar weer vir Herman te skakel. Hy dink nie twee maal nie en is na ‘n kwartier daar, met hegmateriaal, ontsmettingsmiddels, pynpille ens. Hy gebruik lokale verdowing en Basjan laat hom die behandeling welgeval, terwyl hy haar rustige versekerings dat alles nou-nou beter sal wees hoor. Wanneer sy egter stilbly, is hy onmiddellik aan die spook totdat sy weer sy aandag het met beloftes van beterskap.

Nadat sy vir Basjan in die huis op sy bed besorg het en ‘n paar pynpille met melk gevoer het, maak sy vir haar en Herman koffie. Sy herhaal vir hom die vorige nag se gebeure. Hy het nie veel kommentaar nie, kan ook maar net nie die kloutjie by die oor kry nie. Hy is steeds besorg oor haar geestestoestand en haar veiligheid, Basjan se toestand in ag geneem. Sy stap saam na die voorhekkie toe, maar moet halfpad terugdraai toe hy aandring dat sy in die huis gaan en die deur agter haar sluit terwyl hy daar is.

Die speurder is vroeg die volgende oggend daar en stel homself voor as Johan Wandrag. Hy verneem besorg van Basjan wat beseer is, maar is effe gerusgestel dat Basjan al weer aan die beter word is.

Weer en weer moet sy alles herhaal. Sy het vroeg opgestaan soos gewoonlik, maar dit is waar die ‘gewoonlik’ opgehou het en die nagmerrie begin het. Die speurder probeer elke moontlike stukkie inligting uit haar kry. Praat baie simpatiek en sodra hy dink sy is kwesbaar, verhard sy stemtoon en probeer hy haar ontsenu.
“Het die mans wat jy kon hoor toe jy bykom, Engels of Afrikaans gepraat?” “Engels … met ‘n aksent of nie?” Sy beskryf die stem en aksent so goed sy kan, maar moet alles tot vervelens herhaal.
“Hoe is dit dat jy nie weer die plek kon kry waar jy aangehou is nie?” (Hoe antwoord mens wanneer die antwoord so ooglopend vanselfsprekend is.)
“Hoekom was jou broer by jou huis, het hy dikwels onverwags by jou opgedaag en wat weet jy van sy werk?”
“Ek weet dat hy vir Bewapening werk, maar dit is al. Hy wei nooit uit oor wat hy presies daar doen nie.. Ek weet ook dat hy dikwels reis in verband met sy werk en op sy beurt ook soms buitelandse gaste onthaal namens sy firma, maar meer as dit weet ek nie.” Sy besef dat sy antwoord asof hy nog steeds werk en met hulle is. “Ek en my broer verskil heelwat in ouderdom en hoewel ons nie gedurig in mekaar se sakke is nie, gee ons om vir mekaar.”

Die soort vrae laat haar mateloos gefrustreerd en geïrriteerd. Sy hoor dat hulle reeds met Karel se vrou in verbinding was en dat sy skynbaar onder die indruk was dat sy en Karel nie altyd goed oor die weg gekom het nie. Nou verstaan sy die agterdog waarmee die polisie haar bejeën.
“Mevrou dit is vir nou al. U moet besef dat die motief vir die aanval nog nie duidelik is nie en dat u ook onder verdenking sal bly tot ons meer duidelikheid gekry het oor die omstandighede wat tot die gebeure gelei het.”

En daarmee het die speurder vertrek. Sy besluit om die res van die dag tuis te bly. Sy moet buitendien beskikbaar wees wanneer die ondersoekspan in die buitekamer wil vingerafdrukke neem en gipsafdrukke van voertuig-spore in die oprit maak. By elfuur was alles afgehandel, en kon sy weer die gebruik van die afgesperde gebiede terugkry. Maria, wat geskok alles gadegeslaan het, kon ook nou die buitekamer weer aan die kant en skoonmaak. Karmen kon haarself net nie sovêr kry om weer daar in te gaan voor alles skoon was nie.

Sy troetel vir Basjan en maak seker dat hy eet en genoeg vloeistof inkry. By die middag lyk hy al baie beter. Met die bloed afgewas, is die wond toe ook nie so ernstig as wat dit aanvanklik gelyk het nie.

Na middagete het sy in die tuin gaan sit, sodat sy rustig vir haarself aantekeninge kan maak van die verloop van die afgelope twee dae se gebeure. Nadat Maria huis toe is, gaan sy die huis in, sluit alles en gaan werk in haar studeerkamer. Sy tik haar aantekeninge en sommer ook briefies om die Kempton park polisie en vir Herman te bedank vir hulle bystand.

Sy weet nou na soveel jare steeds nie wie vir Karel se dood verantwoordelik was nie en kan steeds nie die ‘swart Woensdag’ vergeet of daarmee vrede maak nie.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar