André Kluyts se debuutroman Vonken Staal is soos ’n oopkajuit‐knortjor wat jou op ’n wilde rit deur ’n stofstorm van kleurvolle karakters, snaakse sê‐goed en bisarre gebeurtenisse neem. Met karaktername soos Duikboot Johnson, Pappa Gevaar, Kobra, Mijnheer Benedict en Dirk Magnum weet jy sommer hierdie is nie ’n koekiedrukker roman nie. Om nie eers te praat van die
uitsonderlike vertonings by Ritteltits nie. Dis natuurlik Arkadia se enigste ontkleeklub en een van die verhaal se sentrale ruimtes. Moet dit net nie ’n ontkleeklub voor Dirk noem nie.

Van die eerste bladsy af word jy vasgevang in ’n ruimte vol spitsvondige skeppings en interessante verwerkings uit ons samelewing. Hierdie kreatiewe ontploffing bied baie pret terwyl
jy deur die ontknoping meegevoer word. Vonken Staal se unieke trefpunt is dat dié eksentrieke kwaliteite egter nie die leser vervreem nie, want die verhaal dra steeds ’n verwantskap met die Afrikaanse kultuur en bevat heelwat identifiseerbare eienskappe.

Die verhaal speel af teen die agtergrond van Die Republiek, ’n ietwat gemoderniseerde wilde weste weergawe van Suid‐Afrika, waar die verskeie rebellies – die Vuil Uile, Mijnhere en Apostels
– sorg vir naelbyt aksie en intrige. Tog is dit nie die fokus van die roman nie. Dit bied slegs die vertrekpunt waarvandaan die primêre storielyn tussen Duikboot Johnson, Luna, en Pappa Gevaar
ontwikkel.

Die leser volg in die spore van Duikboot Johnson – ’n hardebaard swerwer met die tipe blou oë wat kalorieë verbrand en ligbruin hare wat voetjie‐voetjie met sy skouers speel. Hy is al vir jare op ’n wraaktog, maar sy soeke na Pappa Gevaar ontspoor by tye as gevolg van sy swak plek vir die skoner geslag en die goue nektar bekend as Tier bier. Die vroulike hoofkarakter, Luna, is ’n
getatoeëerde femme fatale wat nie kaperjolle van kabouters duld nie. En Pappa Gevaar, wel, soos die naam aandui, is die tipe man uit wie se pad mens ten alle koste bly.

Stilisties herinner Vonken Staal aan die rateltaai verhale van die laat 80’s en vroeë 90’s, maar jy sal ’n fout maak as jy dit alleenlik op sy skop, skiet en donner‐baadjie takseer. Die verhaal is baie meer multidimensioneel as dit, want dit bied heelwat humor, prikkelende romanse, hoendervleis grille, en skokke wat jou deurgaans aan die raai hou. Dus sal ’n wye verskeidenheid van lesers vastrapplek in die verhaal vind. In die geheel bring Vonken Staal iets uniek tot die Afrikaanse mark en verskaf ontvlugting na ’n fassinerende wêreld.

Duikboot Johnson is ’n swerwer op ’n wraaktog wat vir jare die droë vlaktes van Die Republiek telkemale oorkruis het in sy soeke na die berugte leier van die Vuil Uile, Pappa Gevaar. Sy
obsessie het hom na die stowwerige dorp, Arkadia, gelei en dit is hier waar hy sy beste leidraad in jare ontdek. Maar sy gedobbel teen gevoelens, en sy liefde vir boesems en biere, ontvlam die
gevare wat dreig om sy staal te buig.

Vonken Staal is ’n ontploffing van aksie, romanse, grillings en trillings, kaal staal, dansers om ’n paal, en donnerboere op vuistogtoere.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar