Wit leuentjies

“As tannie Nana dalk vandag bel, sê tog net Mamma is besig. Of uit. Of iets,” vra my ma ons kinders. Ja, sy’t ons maak jok. Nie dat sy daarvan gehou het as ons leuens vertel nie. Nie omdat sy nie van tannie Nana gehou het nie, maar omdat die tannie eenvoudig geen einde gehad het nie. En mens is mos nie altyd lus vir ‘n geskinder nie.


Onthou daai jare het ons net landlyne gehad. En die fone was by die muur ingeprop. So my ma was gedwing om vir ure op die riempies bank voor die groot swart foon te sit. In ons verbyloop sou sy wys sy soek ‘n kussing. Riempies banke sit mos seer na ‘n ruk.

Het sy die ure verdryf deur met ‘n bolpuntpen te sit en krabbel. Oral oor die alfabetiese telefoonboekie. Al om die nommers. Van die nommers het gesiggies gekry. En ore. Al om die lintjies en strikkies wat die boekie versier het. Totdat die ink sou begin lek. Dan het sy ‘n sneesdoekie uit haar voorskootsak gegrawe en die punt netjies skoongevee. Sou sy verder krabbel. Die plek waar die pen ‘n blob ink gemors het, het in ‘n groot donker kol verander. Sy het dan haar vingerpunt daarin gedruk om afdrukke te maak. Hierdie kolle sou die krone van blomme vorm … En as afleiding sou sy nou en dan met die pinkie enige stoffies van die kosyn afvee. Die telefoon het ook vreeslik mooi geblink na so ‘n gesprek.

Tannie Nana sou haarself kort-kort verskoon. “Moet net gou die pot sop ‘n roer gee. Boontjiesop is mos lief om aan te brand. Wees tog maar net geduldig, die heupe en die bene loop nie meer so lekker saam nie.”… “Aai, hoekom blaf die honde hier oorkant nou so, laat ek net gaan loer wat aangaan. Mens kan vandag nie meer te versigtig wees nie. Ek is immers vrou alleen.” … “Wag net ‘n bietjie, moet gou badkamer toe. Die ou blaas is nou só vol. Is ook nie meer vandag se kind nie.” … “Wáár was ons nou weer, o ja, was besig om jou te vertel van die raserige bure …”

As ons verbyloop, het my ma ons desperaat nader gewink. Na die voordeur gewys. Met haar wysvinger denkbeeldig die klokkie gelui. Nie eers dit het gewerk nie. “Ek hoor jy’t mense. Ai, mense kan tog so ontydig opdaag. Nog net gister, so skuins voor ses in die aand daag jou oom Gert mos hier op. Uit die bloute. Ongenooid. Dit op etenstyd. Hy kan tog seker nie verwag dat ek hom moet voer nie? Die geldjies is maar min,” sug sy. “In elk geval wáár was ons nou weer …”

My ma het seker ‘n voorgevoel gehad, want dié middag net na een het die telefoon gelui. En dit was tannie Nana.

“Tannie my ma is ongelukkig nie beskikbaar nie,” jok ek soos my ma my gevra het. “Nou waar loop sy al weer rond? In hierdie nat, koue weer. Elke tweede persoon het griep. Sy moet meer versigtig wees. Jy weet tannie Miemie het nou die dag …” “Sy’s innie bad tannie,” val ek haar in die rede. “Nou wie bad hierdie tyd van die dag. Vra ek jou met trane in my oë. Is sy siek? Het seker klaar die griep. Ek sê altyd vir jou ma …” “Nee tannie, sy’s nie siek nie. Sy bad net … nee, ek weet nie … sy bad seker omdat sy vuil is,” babbel my onskuldige kinderkop. “Jaja … nou my kind, vertel gou vir tannie. Hoe gaan dit nog by die skool? Hoe lyk jou punte? Is jy nie veronderstel om besig te wees met skoolwerk nie?”

Net daar hoor ek Mamma se vreesaanjaende gille. Kom sy soos ‘n stofstreep uit die kombuis by die lang gang af genael. Spring sy soos ‘n wafferse gimnas bo-op die telefoon tafel. Vang ek net betyds die foon, maar die vaas vol tuinblomme tuimel om. En die bokkie ornament. Water stroom oral en die bokkie se kop is af. Lê eenkant. “Help! Muis! Muis! Kombuis! Help my!” skreeu mamma sommer in Duits. Haar moedertaal.

Jy lieg“Hallo? Hallo tannie? Is tannie nog daar?” vra ek versigtig terwyl ek my ma van die tafel af help. Paai. “Ga! Jou ma was toe nooit in die bad nie né, het geweet niemand bad hierdie tyd van die dag nie. Veral nie as hulle nie siek is nie. Ek is darem nie onder ‘n kalkoen uitgebroei nie.”

Ek sluk … “Klink of sy op ‘n muis afgekom het,” gaan tannie Nana ongesteurd voort. “Siestog, die vrou raak mos van haar kop af as sy ‘n muis sien. Sy’t seker een of ander knou weg as kind. Hulle sê mos …”

“Nee tannie Nana. Sy hét gebad,” hou ek vol met my storie. Regverdig ek myself. Verdedig ek my ma. “Daar was ‘n muis in die bad,” vertel ek. Trots op my eie vindingrykheid. Smeer ek die pap al dikker.

Die tannie raak ongewoon stil. Vir ‘n hele rukkie. “Mmmm … nou dan beter jy roer en vir haar ‘n handdoek of ‘n japon of iets kry. So in haar naaktheid sal sy die griep optel. Jy weet hulle sê hierdie jaar se griep is …”

Bewend gryp my ma die gehoorbuis uit my hand. Druk sy die knoppie op die foon dood. “Gaan kyk of jy die muis sien? Hy’t agter die yskas verdwyn. Moenie hom seermaak nie. Sit hom net ver agter in die tuin. Of in die bure se tuin,” smeek sy nou rustiger. In Afrikaans.

Die foon het onmiddellik weer gelui. Tannie Nana het seker net die redial knoppie gedruk. Ons het nie opgetel nie.

Sy het seker toe maar vir oom Gert gebel. Of dalk vir tannie Miemie. Dink sy sou nagelaat het om hulle van die muis te vertel. Net dat my ma in die middel van die dag bad en dan kaal in die huis rondhardloop.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply