Appaloosa

 

Met: Viggo Mortensen, Renée Zellweger, Ed Harris & Jeremy Irons
Regisseur: Ed Harris

Die storie is tipies wat jy van ‘n Cowboy-fliek verwag. Die dorpie Appaloosa sukkel met die geweldadige bende van Jeremy Irons wat hulle aan niks en niemand steur nie. Die dorpsraad besluit om Ed Harris en sy helper, Viggo Mortensen, te huur om wet en orde te handhaaf. Dinge begin net beter lyk wanneer die ongetroude weduwee, Renée Zellweger, op die dorp land.

Die landskap en dorpie is omtrent perfek en alles wat jy verwag, maar Ed Harris in die rol van regisseur sukkel om spanning te handhaaf. Dit ry wipplank saam met die hoofkarakter se buie. Die kyker raak nooit werklik betrokke nie.

Viggo Mortensen en Ed Harris maak ‘n goeie span op die groot skerm en Renée Zellweger en Jeremy Irons se karakters is interessant, maar nie een word ooit ontwikkel nie. Groter fokus op Harris en Irons se karakters sou die wêreld se verskil aan die film maak. Die swartgeklede Harris se karakter hou net so ‘n bedreiging in vir die dorpenaars as die bende en Irons speel ‘n amorele bendeleier sonder gewete. Hulle wil wil jou amper oortuig daar is iets meer aan die fliek, maar dit is alles doodloopstrate. Appaloosa het geen dieper betekenis nie. Geen subteks, geen boodskap. Dis gewoon ‘n klomp mooi prentjies wat diens doen as ‘n Cowboy-fliek, met die verwagte skote wat plek plek klap.

Appaloosa
Appaloosa

Ed Harris het reeds belofte getoon as regisseur met Pollock (2000) en die belofte skemer ook deur in Appaloosa. Hopelik sal die belofte nog eendag vrugte afwerp.

6 uit 10

bydrae: JM

Lewer kommentaar

Leave a Reply