My swaer die fietsioloog

 

My swaer, wat in die Hantam woon, het uitgepraat oor ‘n kliënt, in sy winkel. Hoekom weet ek nie. Was dit omdat hy ‘n kliënt gehad het wat hy nie kon bedien nie of was dit ‘n stuk humor ten koste van die situasie. Hierdie aangetroude swaer van my is ‘n man vir detail. As jy oor fietse begin praat, is hy ‘n kundige en moenie jou misgis nie, want sy opmerkings is geld werd. Maar Abert se mensekennis en die vermoë om mense reg te lees troon bo sy fietsiologie uit.

Voort met die fietsband se sage. As iemand dorp toe kom, word daar ‘n dorpslysie saamgestel teen wil en dank aan jou gegee word en die gevolg is dat die arme reisiger soms by plekke moet aandoen wat buite sy of haar diepte is – die manier om die werkies af te handel is om jou eie onsekerheid met ‘n oormaat selfversekeing te verdoesel! Dit skraap jy bymekaar deur ‘n keer of wat diep asem te haal in die bakkie en dan die bul by die horings te gaan pak.

Soos nou die dag toe ‘n jong boervrou, of sal ons sê boervrou-in-wording, want sy is jonkgetroud en die stadsliggies lê nog vlak in haar geheue, met haar lysie saaklik in die winkel haar verskyning gemaak het. Anders as in die stad se winkels word gegroet en na die reën se val en gesondheid verneem. Hierdie nuutgevonde intimiteit het die “Suzie van die Kaap” onkant betrap en byna haar seepbel van gemonsterde selfvertroue geprik, maar die band moet nog gekoop word.

“Ek soek ‘n buiteband vir die fiets van een van ons skeerders asseblief!” Toe ou swaer Allie haar so kyk besef hy hier kom ‘n ding – sy koop buite haar kennisveld en hoe nou die regte ding vir haar gee?

Hy besluit toe om die haas onfeilbare vraag-en-antwoord metodiek van Plato te volg en dit met die liefde van ‘n Moeder Theresa af te rond, ‘n seker resep om ‘n tevrede klient huiswaarts te stuur.

Die onafwendbare inleidende vraag van my begrypende swaer was natuurlik:
“Watter grootte band sal dit wees?” “Weet nie, maar kan dit ‘n probleem wees? Is alle fietsbande nie dieselfde nie?” Om vies te word, was nie regverdig vir my swaer nie, want vir wie moet jy dan nou kwaad word? Hy het by homself gewonder of die dametjie met netso veel onkunde die ko-operasie sou ingaan om iets intiems of persoonliks vir haarself te gaan koop en dan kon haar man ook die skuld dra want as hy ‘n onderdeel vir die Lister sou koop, sou daar beslis ‘n verwysingsnommer by wees, maar die band van ‘n skeerder se fiets .

Ek weet nou nie of my swaertjie die dametjie wou beïndruk nie, want sy geduld het die dag die van Job in die oorteffende trap oortref. Sy verdere poging was toe die vraag: “Is die fiets ‘n dikwiel of dunwiel fiets?” So ‘n stukkie inligting sou beslis baie handig wees vir die bepaling van die fiets se dringend-benodigde buiteband!

Weer lewer die poging geen vrug nie, want as jy nie naby genoeg aan jou naaste kom sodat jy die bande van sy fiets met ‘n ander kan vergelyk nie, sal so ‘n vraag jou met stomheid slaan! Dit was dan toe ook so!

Van ‘n gebrek aan vindingrykheid sal ons nie vir Albert van kan beskuldig nie. Hy speel toe die hoogste troef wat hy het: “Watter kleur is die fiets?” Vra hy met dien verstande as die antwoord dit swart is, is die kanse goed dat dit ‘n dikwielfiets sou wees en sou daar ander kleure ter sprake kom, in dunwiel! Hy maak hom gereed om op die gelukwense van die hoorders in die winkel soos ‘n Holmes van ouds te sê: “Eenvoudig, my liewe Watson, eenvoudig!”

Die boerin se plaas toe die uitklophou: ” Ek weet nie regtig nie. Al wat ek die fiets gesien het, was toe die skeerder sy vrou agter op die rooster laat sit het vir die langpad Loeriesfontein toe! Wat ek wel onthou was die gelatenheid waarmee sy langbeen op die kussing op die rooster van die fiets gesit het asof dit nou maar is soos dit moet wees.”

Nou raak dinge benard want my swaer het al sy troewe gespeel sonder om enigsins in die proses te gevoder het. My skoonbroer is nie iemand wat andere die laaste sê gee nie, want want hy het self ‘n goeie humorsin. Hy som toe sy bevindige as volg op: “Die band vir die skeerder se fiets waarvan ons nie die grootte weet nie, ook nie die dikte van die spoor nie, en ook nie die kleur nie. Sê my is dit ‘n voor- of ‘n agterband?”

Die “Sussie” van die Kaap het een van die beste lesse geleer en nou gaan dit van haar afhang of sy gaan promorfeer in die platteland en die lewe deur eers die regte en noodsaaklike inligting te vergaar voor sy iets vanselfsprekends moet soek.

En my skoonbroer, hy verkneuter homself deur die storie te vertel – en dit in die fynste detail want hy kan mos!

skrywer: Emile de Villiers

Lewer kommentaar

Leave a Reply