Atlantis: The Lost Empire

Regisseur: Gary Trousdale en Kirk Wise

´n Nuwe vollengte Walt Disney-fliek? Ek was so opgewonde soos enige ander animasie-malle. Goed, ek is seker baie ouer as Disney se gemiddelde teikenmark, maar geensins minder geesdriftig oor die kuns van bewegende prentjies nie.

Maar nadat ek Atlantis: The Lost Empire gesien het, is ek baie minder geheg aan Disney, en word ek vinnig ´n dissipel van Dreamworks (skeppers van die fenomenale Shrek).

Atlantis beweeg weg van die gewone Disney-formule (oulike diertjies, fluitbare temamusiek) maar dit kom terselfdertyd die skerp humor en raakvat woordspelings kort wat Disney gewoonlik mee uitblink. Die storie is die ene avontuur en het meesal seuns in gedagte. Dis seker ´n seksistiese opmerking, maar ek kan nie glo dat baie dogtertjies vasgenael sal sit voor ´n skerm vol skietery, militêre maneuvers en monsters nie. Nie dat ons meisies nie soms ´n bietjie geweld geniet nie, maar ons raak gou verveeld as die aksie nie ondersteun word deur humor en ´n tikkie sensitiwiteit nie.

Die storie het beslis potensiaal – die meeste van ons stel belang in die waarskynlik-verlore stad van Atlantis – maar die skeppers het die storie verdraai in ´n oppervlakkige ekspedisie wat konsentreer op doellose gevegte en vreesaanjaende skurke, eerder as ´n fantasie vir ons verbeelding.

Die storie skop goed genoeg af, wanneer ons kennis maak met die hoofkarakter Milo Thatch (met Michael J Fox se stem) – ´n tipiese verstrooide genie wie se hoofdoel in die lewe is om die onderwater paradys Atlantis te ontdek. Hy’s moontlik die karakter met die meeste persoonlikheid, humor en moed. Hy sluit hom aan by ´n span waaghals-avonturiers op soek na die legendariese ryk.

James Garner doen wonderlike stemwerk as die hoof van die sending, Commander Rourke, maar selfs daardie vokale talente kon nie aan ´n een-dimensionele karakter lewe gee nie. Die res van die span behaal wisselende sukses met hulle poging om te vermaak. Wilhelmina, die skakelbordvrou (Florence Stanley se stem) verskaf ´n hoogtepunt met haar heerlike, bytende sarkasme terwyl die molagtige kreatuur (Corey Burton) grens aan ´n konstante irritasie.

´n Groot deel van die fliek gaan oor die soektog na die verlore stad. Maar terwyl daar ´n paar struikelblokke in hulle pad is, vind hulle die algemene ligging van Atlantis net te maklik. Die stad self is ´n asemrowende fantasie en die wisselwerking met die inwoners van Atlantis is ´n hoogtepunt van die fliek. Princess Kida (Cree Summer) is ´n lewendige, vindingryke karakter wat ons held Milo se hart warm laat klop.

Dan raak die storie bietjie verwarrend en ek wonder of die meerderheid van die onder-10-jariges sal kan tred hou. Party van die tonele is dalk ook bietjie vreesaanjaend vir die kleintjies, maar met al die geweld deesdae op televisie, is dit seker vir hulle niks snaaks nie.

Een van die teleurstellende aspekte van die fliek is die animasie. In vergelyking met die fantastiese rekenaar-grafika in Shrek, is Atlantis se animasie-tegnieke pre-histories. Die agtergrond-grafika (landskappe, geboue,voertuie) is goed, maar die karakter-animasie het regtig nie beïndruk nie.


Neem gerus die kinders na Atlantis: The Lost Empire. Dit sal hulle minstens ´n rukkie lank besig hou en daar’s min kans dat hulle jou gaan smeek om dit weer en weer te sien!


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar

Leave a Reply