Met: Brad Pitt, Julia Roberts en James Gandolfini
Regisseur: Gore Verbinski
Brad Pitt en Julia Roberts kon so maklik die “droompaartjie” in Gore Verbinski se aweregse prent The Mexican gewees het – en tog ding elkeen van hulle so hard soos hulle kan teen mekaar mee om die fliek hulle eie te maak.
Pitt speel die rol van Jerry Welbach, ´n ietwat lompe bendelid wat hard probeer om uit die kloue van die Mafia in Los Angeles te ontsnap. Wanneer hy geen keuse gegun word nie en ´n laaste “werkie” vir ´n dodelike Mafia-baas moet doen of vermoor word, besluit Jerry dat dit darem beter is om te lewe – al raak sy meisie Samantha (Roberts) al hoe meer ongeduldig dat hy die Mafia moet los. Jerry vertrek dus suid waar hy ´n pistool wat met juwele oortrek is en wat The Mexican genoem word vir sy baas in die hande moet kry. Samantha, diep seergemaak, vertrek na Vegas waar sy weer in een van die groot dobbelhuise gaan werk.
Jerry vind dat dit maklik is om The Mexican op te spoor, maar dat dit glad nie so maklik is om dit by die huis te kry nie – want, sien, daar is ´n legendariese vloek oor die wapen uitgespreek. Dit duur nie lank nie of Jerry bevind homself sonder ´n duit in Meksiko waar hy dit regkry om ´n man te laat vermoor en hy meer as een keer die wapen verloor – en weer opspoor.
In ´n reeks terugblikke wat aan die era van stilflieke herinner, leer ons die geskiedenis van die pistool. ´n Talentvolle wapenmaker het dit as geskenk vir ´n rykmanseun gemaak – omdat hy gehoop het die seun sou met sy dogter trou. Die meisie in hierdie saga was egter verlief op die wapenmaker se assistent, en die verhaal eindig heel tragies. En nou wil Jerry se bendebaas (Gene Hackman) die vervloekte wapen hê.
Intussen word Samantha deur een moordenaar geteiken (Sherman Augustus), en gered deur ´n ander, ´n sterk “slegte ou” wat homself Leroy noem (James Gandolfini), wat gestuur is om seker te maak dat Jerry nie met die wapen ontsnap nie.
Soos hy in Snatch getoon het, het Pitt ´n flair vir fisiese komedie. Hy het net daardie gawe om voor te kom asof hy dit geniet om ´n ou te speel wat net niks reg kan doen nie.
As Samantha, die neurotiese en effens gekke “meisie” het Roberts in essensie ´n stereotipiese rol gekry en kom sy kort-kort vorendag met sulke skatlikhede soos: “Ek het sonskyn nodig om te groei!”. Dit is beslis nie ´n opvolg op Erin Brockovich nie.
Dit is interessant dat The Mexican eers vir relatief onbekende akteurs bestem was – en miskien moes die onbekendes maar die rolle gekry het. Terwyl die fliek die lagspiere prikkel en by tye nogal roerend is, word die twee sterre se ware potensiaal nie regtig getoets nie.
Die draaiboek het meer hoekies en draaitjies as die gewone romantiese komedie van sy soort en hou die fliek vir twee ure lank aan die gang. Teen die tyd dat Pitt en Roberts egter weer by mekaar uitkom en die pistool weer in die regte hande is, het The Mexican se brandstof net mooi opgeraak.
