Boggomsbaai se mense is ʼn splinternuwe Afrikaanse radiovervolgverhaal van byna vyf maande wat van vandag af op verskeie gemeenskapsradiostasies dwarsoor die land gehoor kan word.
Dit is egter veel meer as net ʼn radiovervolgverhaal – die luisteraar kan via sosiale media deel word van die kusgemeenskappie en sy intriges. Hierdie opwindende radiodrama bring ʼn nuwe dimensie na Afrikaanse radiodrama: sosiale media is vir die eerste keer deel van die uitspeel van die verhaal. Die karakters kry ʼn eie lewe deur hul Facebook-profiele, en luisteraars kan regdeur die reeks met hulle vriende maak en lekker saamkuier. Hulle sal die geleentheid hê om met die karakters gesels, te bespiegel oor verwikkelinge in die storielyn en voorstelle te maak oor hoe die storie kan ontwikkel. Besoek gerus Boggomsbaai se Mense op Facebook.
Dié vervolgverhaal, wat vervaardig word deur Bettie Kemp in samewerking met Maroela Media/Draadloos, kan danksy ʼn borgskap van FNB gratis aan gemeenskapsradiostasies verskaf word. In dié 90 episode-verhaal maak verskeie van die karakters wat verlede jaar in die radiovervolgverhaal Boekeparadys hul buiging gemaak het, hul terugkeer. Die teks word geskryf deur Charles J. Fourie.
Sedert Boekeparadys verlede jaar tot ʼn einde gekom en die perlemoensmokkelaars vasgetrek is, het daar egter baie op Boggomsbaai gebeur. Nuwe inwoners is in aantog wat die lewens van die kusdorpie se mense omkrap, en die gemeenskap word gekonfronteer met vooruitgang en nuwe maniere van dink.
Die storielyn beloof om luisteraars vasgenael voor die radio te hou. Vooruitgang is nie iets waarmee al die inwoners van Boggomsbaai gemaklik voel nie. Daar’s dié wat vooruitgang wil keer en dié wat ʼn beter toekoms vir hulself en hul gesinne wil sien.
Aan die een kant is daar die geliefde ou prof. Daan de Villiers (Anton Dekker) wat saamstaan met Estelle Botha (Magda van Biljon), die dorp se bibliotekaresse, om die ontwikkeling te keer. Hulle glo dat dit die dorp sy karakter en rustigheid sal ontneem.
Mossie Mostert (Antowan Nöthling) die polisieman en romantikus is weer die groot vredemaker en sede-bewaker wat steeds verlief is op Lien Marais (Christien Voorendyk), die natuurbewaringsoffisier. Sy is op haar beurt steeds verlief op Ruan Venter. En dan is daar die geliefde Ganiefa Daniëls (Ria Smit) en haar visserman Wilfred (Francois Stemmet) wat nie kant wil kies nie, maar ontwikkeling beteken vir hulle en hul mense beter lewens- en werksgeleenthede.
Waarmee al die karakters helaas gekonfronteer word, is die planne van ʼn nuwe inwoner – die charismatiese Louw Swart. Hy en sy handlanger Bennie Wiese het planne van hul eie. En dis planne wat hom met die gereg laat bots.
Die swierbol Ruan Venter (Duncan Johnson) keer ook terug na Boggomsbaai. Moet hom nie vlak kyk nie. Hy het as agent vir die regering gewerk en hy weet hoe om mense om sy pinkie te draai, tot Mossie se verdriet.
Boggomsbaai se mense gaan van Maandag 27 Oktober weer deel van luisteraars se lewens word. Seisoen 1 is agt weke lank en duur tot Vrydag, 19 Desember, wanneer die inwoners ʼn ruskans sal neem vir die vakansie. Vanaf Maandag, 5 Januarie 2015 kan luisteraars na seisoen 2 luister, wat tot 13 Maart aanstaande jaar uitgesaai sal word. Tegniese versorging word behartig deur André du Toit van Wow Productions.
ʼn Lys van gemeenskapsradiostasies wat dit gaan uitsaai
Whale Coast FM | 11:30 | Sondae, 17:30 | |
Oos-Rand Stereo | 12:45 | Daagliks, 00:00 | |
Radio Namakwaland | 15:40 | Daagliks, 22:00 | |
Lichvaal Stereo | 18:45 | Saterdae, 21:30 | |
Radio Panorama | 18:30 | Daagliks, 04:45 | |
Kosmos Stereo | 22:00 | Sondae, 12:00 | |
Radio Kragbron | 15:35 | Saterdae, 22:15 | |
Radio Suid-Afika | 10:00 | Daagliks, 21:00 | Saterdae Omnibus: 14:00 |
Overvaal Stereo | 14:40 | Daagliks, 14:40 | |
Radio Alpha | 16:10 | ||
Radio Pretoria | 15:15 | Daagliks, 23:15 |