Met: George Clooney, Frances McDormand, John Malkovich, Tilda Swinton, Brad Pitt en J.K. Simmons
Regisseur: Ethan Coen en Joel Coen
Die storie begin een aand op my stoep. Talle van die stoepsitters was onlangs in die buiteland en het Burn After Reading gesien. Die algemene gevoel was dat dit uitstekend is. Ek het maar my mond gehou, na my mening is dit vreeslik middelmatig.
Ek is ‘n aanhanger van die Coen-broers, en hier moet ek tot my skande bieg dat ek nou nog nie No Country for Old Men (2007) gesien het nie. Barton Fink (1991) en Fargo (1996) is egter goed genoeg om enige persoon te oortuig dat hierdie twee briljante broers is. Nie net as regisseurs nie, maar ook as skrywers. Burn After Reading voldoen nie aan die Coen-standaard nie.
Die storie is tipies van wat ons nou al verwag van die Coens. Die normale verloop van ‘n groep mense se bestaan word deur ‘n reeks gebeure versteur. Dinge begin hand uit ruk en neem later absurde afmetings aan. Die ironie duik om elke hoek en draai op en ons word deurgaans gekonfronteer met ons eie onnoselheid. Die agtergrond is die wêreld van die CIA, geheime agente, afpersing en owerspel.

Malkovich gebruik elke oomblik op die skerm om alles en almal te oordonder. Ek weet nie regtig wat Clooney probeer doen het nie, ek sal graag sy verduideliking wil hoor. Brad Pitt is nie regtig ‘n swak akteur nie, maar wanneer hy gekonfronteer word met ‘n karakter wat hy nie kan vertolk nie val hy terug op hierdie een simpel idioot wat ons weer in Burn After Reading sien. Of Pitt nou, soos die keer, ‘n gay gym instrukteur is en of hy ‘n psigopatiese eko-terroris is, soos in 12 Monkeys, die karakter is altyd dieselfde.
J.K. Simmons is die beste van die lot. Jy sal nie sommer sy naam herken nie. Hy speel altyd die polisiehoof of koerantbaas. Is ook bekend vir sy rol in die TV-reeks Law and Order. Die keer is hy die CIA-hoof. Simmons het, wat my betref, die beste deel van die teks gekry en het net ‘n paar minute op die skerm nodig om sy karakter sonder moeite bo die res te laat uitstaan.
Ek sal nie sover gaan en Burn After Reading swak noem nie, dit is eenvoudig nie op die Coen-standaard nie. Dit is in dieselfde klas as die hulle ander “flops”, Raising Arizona (1987) en The Ladykillers (2004).
Vir Burn After Reading kry die Coen-broers 5 uit 10.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
