City of Ember

Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za

Met: Bill Murray, Tim Robbins en Martin Landau
Regisseur: Gil Kenan

Die jong regisseur Gil Kenan het net nog twee films onder sy belt, maar beide getuig van visuele uitnemendheid. Met City of Ember besef mens eers hoe groot Kenan se invloed was in die animasieprent Monster House.

City of Ember het ook daardie element wat kinders aangryp en grootoog na die skerm laat staar. Waar Monster House egter ‘n speelgrond is waar net kinders tuisvoel het Kenan dié keer ‘n fantasiewêreld vir almal geskep.

Ember is ‘n ondergrondse stad wat deur elektriese gloeilampe verlig word. Die inwoners glo dat die donkerte om die stad oneindig in alle rigtings strek en groot gevaar inhou. Nou is hulle kragstasie is besig om die gees te gee en hulle kosvoorraad raak min. Die burgermeester sien geen probleem nie, maar twee jongmense ontdek dat daar dalk ‘n ander uitweg is.

City of Ember

City of Ember

Die visuele agtergrond is baie goed gedoen. Die vervalle stad met sy inwoners se sonderlinge manier van dinge doen is die doek waarop die sedeles uitgebeeld word. Die les is so duidelik soos die duisende gloeilampe wat nog brand in Ember, die soustrein politikus wat net na homself kyk, terwyl sy volgelinge blindelings vertrou in hom en hul hoop vestig op die koms van ‘n entiteit wat hulle self opgemaak het. Die toekoms lê in die hande van die jongklomp wat weiers om slaafs in hulle voorgangers se spoor te trap.

Daar skort heelwat met die storie. Ons word gelaat met te veel onbeantwoorde vrae. Hoe het dit byvoorbeeld gebeur dat die insekte en molle so reusagtig geraak het? Wat het fout gegaan op die aarde dat die “builders” Ember moes bou? Hoekom is Ember gebou om net 200 jaar te funksioneer? Jy word ook gelaat met die gevoel dat jy nooit Ember werklik ontdek het nie. Ons kry ‘n vinnige blik en dan is dit weg.

Die halwe storie ten spyte is City of Ember uitstekende gesinsvermaak. Dit laat mens ook uitsien na Gil Kenan se volgende fliek.

7 uit 10

Lewer kommentaar

Leave a Reply