Enemy at the Gate

Met: Jude Law, Ed Harris, Joseph Fiennes, Bob Hoskins en Ron Perlman
Regisseur: Jean-Jacques Annaud

Stalingrad, 1942. ´n Treinvrag Sovjet-soldate word oor dieVolgarivier vervoer terwyl Duitse bomme om hulle ontplof en vegvliegtuie hulle met koeëls bestook. Aan die buitewyke van Stalingrad, wat beset word deur Nazi-troepe, word hulle dadelik op ´n selfmoordsending gestuur hoewel net die helfte van hulle bewapen is.

Onder die duisende wat waarksynlik hulle dood tegemoed gaan is Vassili Zaitev (Jude Law van The Talented Mr Ripley), ´n jong, oopgesig skaapwagter van die Oeral-gebergtes sonder fieterjasies, wat kolskoot kan aanlê en daarvan droom om eendag ´n fabriekbaas te word.

Vassili oorleef verbasend genoeg die slagting en maak later binne minute korte mette van vyf Duitsers. Sy skietvernuf word raakgesien deur die bril-draende propagandis Danilov (Joseph Fiennes), wat Vassili se dodelike akkuraatheid besing, eers in nuusbriewe wat onder die troepe uitgedeel word, en later in koerante wat regoor die Sovjet-Unie versprei word.

Vassili word ´n nasionale held terwyl hy die een Nazi na die ander afmaai. Maar sy akkuraatheid maak die Duitsers so moedeloos dat hulle hul beste skerpskutter, ´n Nazi uit die ou skool, Majoor Konig (Ed Harris), instuur om klaar te speel met die Sovjet-held.

Regisseur, vervaardiger en mede-skrywer Jean-Jacques Annaud (The Name of the Rose, Seven Years in Tibet) sorg vir ´n paar oorweldigende, grafiese gevegtonele, en skakel na die kleiner skaal oor vir die spannende kat-en-muis-spel waarby Vassili en Konig betrokke is. Dis wonderlike rolprentwerk, met asemrowende ontploffings van geweld wat afgespeel word teen die spannende afwagting terwyl die twee vyande vir mekaar ingewikkelde strikke stel.

Ongelukkig roer Annaud ´n flou romantiese driehoek tussen Vassilli, Danilov en ´n aantreklike Joodse soldaat (Rachel Weisz) by. Die grootste deel van die fliek is op feite gebaseer (Vassili het bestaan en was tydens die geveg om Stalingrad in ´n tweegeveg betrokke met ´n Duitse skerpskutter) maar die liefdesverhaal ruik na tranetrekkerige Hollywoodse fiksie.

Die sterk regie, wat met wonderlike stelontwerp en filmkuns gepaard gaan, vergoed vir die minder kleurvolle karakterisering. Hoewel die karakters goed uitgebeeld word deur Law en Fiennes, het Vassili en Danilov nie rasend interessante persoonlikhede nie.

Die rolle met vleis om die lyf gaan aan die ondersteunende spelers: Bob Hoskins, wat ´n middeljarige Nikita Khrushchev speel, Ron Perlman as die siniese Sovjet skerpskutter en veral die werklik indrukwekkende Harris.

Afgesien van Harris, is die rolprent se grootste bate die openingstonele, wat herinner aan die skokkende onmiddelikheid en grusaamheid van Spielberg se Saving Private Ryan. Die tonele oortuig nie net nie, maar gryp jou so aan die hart dat dit ´n ontstellende begin verskaf vir ´n fliek wat oorlog uitbeeld op sy omvangrykste en intiemste vlakke.

Lewer kommentaar

Leave a Reply