Felix

Felix, wenner van die Audience Choice toekenning vir beste film by vanjaar se Durban International Film Festival, begin op 13 September landswyd by 40 fliekteaters draai.


Die indrukwekkende rolverdeling van Felix bestaan onder andere uit: Oscar-genomineerde Dame Janet Suzman (wat in Johannesburg gebore is) in haar eerste Suid-Afrikaanse fliek, Beste aktrise SAFTA-wenner Linda Sokhulu, wat haar filmdebuut maak,Fleur du Cap en FNB Vita wenner Andre Jacobs en die jong nuweling, Hlayani Junior Mabasa, wat uit 500 hoopvolles by landswye oudisies gekies is vir die titelrol van Felix.

Dié Suid-Afrikaanse fliek het reeds fees- en voorskougehore laat lag en laat huil en Peter Machen, bestuurder van Durban International Film Festival het na Felix verwys as “’n Suid-Afrikaanse ekwivalent van Billy Elliott – ‘n lieflike, lewendige, voelgoed fliek oor ‘n township seun wat vasberade is om sy drome waar te maak.”

In Felix droom die 14-jarige Felix Xaba daarvan om ‘n saksofoonspeler te word soos sy oorlede pa, maar sy ma, Lindiwe glo dat jazz die duiwel se musiek is. Wanneer Felix in Graad 8 met ‘n beurs by ‘n privaatskool gaan studeer, maak hy (tot sy ma se ergenis) kontak met twee ouer lede van sy pa se destydse jazz orkes sodat hulle hom kan help voorberei vir sy skool se jazz konsert.

Wat Felix verder noemenswaardig maak is dat die vervaardiging daarvan hoofsaaklik deur vroue behartig is. Roberta Durrant, wat verlede jaar ‘n SAFTA Lifetime Achievement toekenning ontvang het, was die regisseur van Felix, Shirley Johnston het die bekroonde draaiboek geskryf, Natalie Haarhoff was die regisseur van fotografie, Kate Schalk was die lynvervaardiger, Surisa Surisa was die kunsregisseur, Ayesha Khatieb was die garderobe stileerder, Islyn Goliath was verantwoordelik vir hare en grimering en Maryke Kruger was die redigeerder.

Shirley Johnston se Felix-draaiboek is aangewys as die wenner van Sithengi se skrywersforumtoekenning, was ‘n finalis in die Amerikaanse Spec Scriptacular kompetisie en het ook die kwarteindrondte gehaal in beide Francis Ford Coppola se American Zoetrope Screenplay Contest en die Moondance Screenwriting Competition.

Felix
Felix

Musiek-regisseur Murray Anderson, wat al goue en platinum albums opgeneem het vir mense soos Abdullah Ibrahim, het Felix se klankbaan behartig saam met voormalige Standard Bank Jong Kunstenaar wenner, Mark Fransman en Bokani Dyer, asook 2012 trippel-SAMA genomineerde, Lwanda Gogwana.

Felix is ‘n Penguin Films produksie vir Sabido Productions en word versprei deur Crystal Book Distribution. Die fliek is in Engels, Afrikaans en Xhosa geskiet.

Lewer kommentaar

Leave a Reply