Met: Ricky Gervais, Greg Kinnear en Tea Leoni
Regisseur: David Koepp
Baie van ons het al gewonder wanneer Ricky Gervais die geleentheid gaan kry in ‘n hoofrol in Hollywood. Hy het almal se aandag getrek in die TV-reeks The Office. Een of twee klein rolletjies het gevolg, maar hy wou niks weet van die hoofrolle wat hy aangebied is nie, byvoorbeeld in Night At The Museum.
Nou is daar Ghost Town. Alles omtrent die film skree “eerste poging”, tweederangse byspelers, klein begroting, maar na ‘n paar minute tref dit jou, die fliek is verbasend goed.
Gervais speel die rol van ‘n tandarts wat nie baie goed met mense oor die weg kom nie. Tydens ‘n klein operasie “sterf” hy vir sewe minute en wanneer hy bykom kan hy spoke sien. Hierdie spoke het almal onafgehandelde sake en wil hê die ongewillige tandarts moet help. En spoke irriteer die tandarts nog meer as mense.
Ghost Town
Regisseur David Koepp was ook verantwoordelik vir die teks. Basies is Ghost Town ‘n romantiese komedie, maar stukke beter as die normale Hollywood stroop of die opelyf komedies met kru hoofkarakters wat hul woorde gil, soos gewoonlik vertolk deur Adam Sandler of Will Ferrell. Ons kan steeds die einde voorspel, maar die teks het veel meer om die lyf en jy mag dalk iewers ‘n traan wegpik.
Die fliek is ook suksesvol, want die hoofkarakter pas Gervais se persoonlike styl soos ‘n handskoen. Is hy heeltemal laf, of is hy normaal en die res simpel. Hy is duidelik ook toegelaat om die teks aan te pas soos hy goeddink.
‘n Goeie fliek om saam met jou nuwe liefde te sien of ‘n DVD vir twee.
7 uit 10
bydrae: JM
