Melancholia
Jy ervaar hierdie film, net soveel soos wat jy daarna kyk. Dit poog om jou mee te sleur in ‘n stroom van swaarmoedigheid en sodoende emosioneel uit te put.
Verleidelike mooi openingstonele lok jou soos ‘n Lorelei om deel te word van die storie, terwyl die herhalende eentonigheid daarvan jou waarsku om weg te bly. Dit ontroer jou, net om jou daarna moedeloos te laat.
Moenie wonder wat regisseur Lars von Trier van jou, die kyker , verwag nie. Hy gee nie ‘n hel om vir wat jy dink nie. Hy fokus op sy onderwerp en probeer dit weergee soos hý dit sien; die keer in meer toeganklike beelde as in Antichrist.
Die film bestaan uit twee dele. Die eerste handel oor die oulike, maar absurde troue van Justine (Kirsten Dunst). Die depressiewe Justine en haar bruidegom is twee teenpole. Sy depressief, en Michael (Alexander Skarsgård) die ewige optimis. Aanvanklik is Justine se manewales snaaks, tot dit ondraaglik begin raak. Wanneer dit sin maak is ons al in die tweede deel van die film en Justine is omtrent katatonies.
In deel twee raak Justine se suster Claire (Charlotte Gainsbourg soos altyd op haar stukke) al meer vreesbevange oor die naderende ramp. Haar man John (Kiefer Sutherland) maak asof niks gebeur nie, maar hy glo nie meer homself nie. Soos Claire al meer die slagoffer van haar eie vrees raak, so raak Justine al hoe sterker. Justine berus haar in die realiteit, ‘n emosionele oorwinning in die swaarmoedigste omstandighede denkbaar.
Melancholia is ‘n uitmergelende wipplank van emosies. ‘n Emosionele marathon waarin jy die melancholie van die oomblik omhels om te oorleef.
Dit klink dalk nie aanloklik nie, maar dit is beslis ‘n oorspronklike belewenis. Dit is ook die film waarin Kirsten Dunst haar beste vertolking ooit lewer.

Melancholia
Drama, Wetenskapsfiksie
Quintus van Rensburg
Regisseur:
Skrywers:
Met:
(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
