Moon is ‘n intelligente film, ‘n fabel van ‘n man op die maan.
Die fliek herinner sterk aan die wetenskapsfiksie van die sestigs en sewentigs, veral Stanley Kubrick se 2001: A Space Odyssey. ‘n Ruimteingenieur, Sam Bell (Sam Rockwell), is alleen op die maan waar hy masjiene beheer wat Helium-3 ontgin. Sy enigste geselskap is die rekenaar GERTY (Kevin Spacey). Sam werk hard en droom van die tyd wanneer hy met sy vrou en dogter herenig gaan word, daardie tyd breek oor twee weke aan. In hierdie laaste twee weke word Sam beseer en sy plaasvervanger maak vroegtydig sy opwagting. Hierdie gebeure stem Sam tot nadenke oor sy werkgewer, sy omgewing en homself. Soos sy T-hemp op ‘n stadium wys – “Wake me”.
Regisseur Duncan Jones is ten volle in beheer van die film se emosionele temas. Jones het die oorspronklike verhaal geskryf en saam met die kunstige, onheilspellende rame van die filmoperateur gryp Sam Rockwell die geleentheid aan vir ‘n kragtoer. Rockwell bring alles wat nodig is om hierdie ‘n eenmanskouspel te maak.
Kevin Spacey doen alles moontlik en nog meer met die rekenaarpersona.

Moon is filmkuns, die kamera doen die werk en word slegs hier en daar gekomplimenteer met miniatuur stelle. Dit is beslis een van die beter rolprente in die genre die afgelope paar jaar, maar let wel, dit gaan nie na almal se sin wees nie.
Regisseur: Duncan Jones
Met: Kevin Spacey & Sam Rockwell
4 / 5
12 Oktober 2009
(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)
