Die langverwagte Suid-Afrikaanse misdaadriller op almal se lippe, Nommer 37, word hierdie naweek uiteindelik in plaaslike bioskope vrygestel, nadat dit reeds groot opslae oorsee gemaak het.

“Ek hoop dat alle Suid-Afrikaners hierdie fliek sal gaan kyk, want die tema is universeel terwyl hulle ook meer sal sien van ’n wêreld wat aan die meeste van ons onbekend is. Teen die tyd wat fliekgangers die bioskoop verlaat, sal hulle vermaak en verras voel … en dalk ook sommer lus wees om ’n verkyker aan te skaf,” sê regisseur en draaiboekskrywer, Nosipho Dumisa, wat ook ’n medevervaardiger is van die gewilde kykNET-sepie, Suidooster, oor haar debuutspeelfilm.

Hierdie Kaapstadse produksie, wat aan die wêreld bekendgestel is tydens die internasionale SXSW-rolprentfees in Texas, is ook gekies is om die land verder te gaan verteenwoordig by die agtiende jaarlikse Internasionale Neuchâtel Fantastic-Rolprentfees (NIFFF) in Switserland, vanaf 6 tot 14 Julie 2018. Daar is ook onlangs aangekondig dat Dark Star Pictures eksklusiewe regte bekom het om die fliek in Noord-Amerika te versprei. Die Noord-Amerikaanse vertonings sal in New York en Los Angeles begin, waarna dit ook vroegwinter op ’n DVD-op-aanvraag-basis vrygestel sal word. Reel Suspects het ook verspreidingsregte vir die rolprent in China, Duitsland, Oostenryk, Switserland en Japan bekom.

Nommer 37 is gebaseer op die SAFTA-bekroonde kortfilm met dieselfde naam, waarvan Nosipho Dumisa en Travis Taute die regisseurs was. Dit speel af in ’n fiktiewe woonstelblok, Haven Mansions, in haar weergawe van ’n buurt op die Kaapse Vlaktes. Dit vertel die verhaal van Randal Hendricks (Irshaad Ally) wat onlangs deur ’n ongeluk gestrem gelaat en nou rolstoel- woonstelgebonde is. Hy is kniediep in die skuld by ’n sosiopatiese geldskieter met die naam Emmie (Danny Ross), wat sy pond vleis eis. Wanneer sy toegewyde meisie, Pam (Monique Rockman), vir hom ’n verkyker present gee kan hy sy bure dophou en sien hy op ’n dag hoe ’n gevaarlike bendeleier, Lawyer (David Manuel), ’n moord pleeg en besluit om hom af te pers vir geld. Met verraad en gierigheid om elke hoek en draai, neem die gebeure wat volg hulle op ’n lewensgevaarlike reis, soos wat die wêreld rondom hom verder en verder in chaos gedompel word.

Sandi Schultz, Deon Lotz, Elton Landrew, Ephraim Gordon en Luke Jansen is ook in die fliek te sien. Dit is vervaardig deur Bradley Joshua en Benjamin Overmeyer, van Gambit Films, saam met XYZ Films.

Dala Wat Jy Moet, ’n treffende kletsrymverwerking wat geïnspireer is deur die leefstyl op die Kaapse Vlaktes, is die eerste enkelsnit wat vrygestel is vanaf die fliek se klankbaan. Dit is baie goed ontvang en is geskep deur die Kaapse kletsrymer, Youngsta CPT, en die manlike hoofrolspeler van die prent, Irshaad Ally. Dit spog met ’n tipiese kletsrymritme en ’n konstante meesleurende koorherhaling wat nie net perfek by die genre van die fliek pas nie, maar ook bydra tot die opbouende spanning. ’n Inspirerende musiekvideo, met die boodskap dat jy net suksesvol kan wees in die lewe as jy kies om bo jou omstandighede uit te styg, is ook pas uitgereik.

Nommer 37 is ’n spanningsbelaaide grootskerm-ervaring, wat kykers op die punte van hulle stoele sal hou tot en met die laaste toneel en nie iets wat misgeloop moet word nie.

Die fliek is vervaardig deur Gambit Films in samewerking met kykNET Films, M-Net, XYZ Films en Die Departement van Handel en Nywerheid (DTI). Dit word plaaslik op 1 Junie 2018 vrygestel deur Ster-Kinekor Entertainment.

Nommer 37 word by die volgende teaters vertoon:

STER-KINEKOR
Bay West, Tygervalley, Cape Gate, N1 City, Blue Route, Somerset Mall, V & A Nouveau, Parow, Promenade Mall, Garden Route Mall, Mimosa Mall, Gateway

Mall of the North, Secunda, Mooi Rivier, Sterland, Centurion City, Brooklyn Nouveau, Kolonnade, Irene Mall, Rosebank Nouveau, Cresta, Vaal Mall, Carnival City en Eastgate.

NU-METRO
Boardwalk, Canal Walk, Clearwater, Galleria, Key West, Menlyn Park, The Glen, Westgate, Welkom, Woodlands en Worcester.

ONAFHANKLIKE BIOSKOPE
Movies@Monte, Movies@Emnotweni, Movies@Silverstar, Minimax Paarl, Epic Mall@Reds en Epic Northridge

Om vooraf kaartjies te bespreek kliek hier: https://www.sterkinekor.com/beta/details/HO00000946

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply