Rachel Getting Married

 

Met: Anne Hathaway & Debra Winger
Regisseur: Jonathan Demme

Anne Hathaway se rol in Rachel Getting Married is iets anders as waarmee sy normaalweg geassosieer word. Sy het nog altyd goed gevaar in ligte komedies, maar haar ander vertolkings is meer as gereeld kil en met soveel emosie soos een van Madame Tussaud se poppe.

Nou is sy vir ‘n slag die swartskaap en dit bring die beste in haar na vore. Sy speel die dwelmverslaafde suster wat ousus Rachel se troue bywoon. Die karakter probeer die dwelmgewoonte afskud en is gevolglik onstabiel en meeste van haar familie is gatvol vir haar.

Jonathan Demme se regie is iets besonder. Hy laat die kamera die storie vertel deur tussen die familie te beweeg en op belangrike plekke te fokus. So weef hy sy verhaal en gee jou die agtergrond van alles en almal.

Rachel Getting MarriedDie film is eevoudig en speel hoofsaaklik in die familie se huis af. Die kamera word met die hand gedra en dit help die gevoel dat jy eerder na ‘n verhoogstuk kyk as ‘n film. As kyker raak jy intiem betrokke by die familie en word geskok deur ‘n onthulling, wat meer insig in Hathaway se karakter bied. Later voel jy deel van die stuk, tussen almal op die verhoog.

Rachel Getting Married het nie heeltemal die diepte wat mens verwag van so ‘n film nie, maar dit is beslis die moeite werd. Dit is nie jou tipiese gesinstorie nie, maar eerder ‘n realistiese kykie na ‘n familie wat, soos meeste families, ook hul seerplekke koester.

Die film kry 7 uit 10.

bydrae: Sarie

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar