The Hurt Locker

The Hurt Locker

Roekeloos

So hoe goed is hierdie film wat Avatar by die Oscars uitgestof het?

Die storie fokus op ’n span wat in 2004 bomme opruim in Baghdad. Regisseur Kathryn Bigelow se kamera sorg dat ons elke oomblik saam met die soldate beleef. Die kamera bly in die akteurs se gesigte en as dit elders mik moet jy saam met die karakter jou oë op skrefies trek om te sien wat doer vêr in die woestyn gebeur.

Hierdie benadering steun swaar op die akteurs, wat hulle baie goed van hulle taak kwyt. Die feit dat jy nooit die karakters waarlik leer ken nie is die regisseur se fout. Sy beweeg aanhoudend van een spanningsvolle oomblik tot ’n ander.

Interessant hoe Bigelow kies om nie so erg te steun op die gewone maniere wat regisseurs gebruik om spanning op te bou nie. Sy handhaaf ’n eentonige trant wat op ’n stadium verander in ’n onheilspellende gevoel, wat dan opbou tot spanning. Dit is vir my ook die sentrale tema van The Hurt Locker, ons eentonige daaglikse bestaan, al is jou daaglikse taak om bomme te ontlont. Die film lewer ook kommentaar oor oorlog, maar kan op soveel ander vlakke gelees en ontleed word.

Hopelik klink The Hurt Locker nie nou soos ’n “diep” film nie. Die fliek is vir almal. Dit is goeie vermaak, vol aksie.

En net so die laaste knie tussen die bene vir Avatar se James Cameron is dat hy voorheen met Bigelow getroud was.

The Hurt Locker
The Hurt Locker

Regisseur: Kathryn Bigelow

Met: Guy Pearce, Ralph Fiennes, David Morse & Evangeline Lilly

4 / 5

Lewer kommentaar

Leave a Reply