Met: Hugh Jackman & Kate Beckinsale
Regisseur: Stephen Sommers
Van Helsing is ´n baldadige cowboy wat Dracula, Frankenstein en ´n weerwolf tegelykertyd op hul neuse laat kyk.
Met dit gesê bly dit vreemd dat mens sukkel om wakker te bly. Stephen Sommers behoort ´n toekenning te kry vir die feit dat hy met al die tegnologie tot sy beskikking nie eens die tieners kan beïndruk nie.
Ek raai dat die verhaal geskryf is deur iemand in Graad R. Superhero Van Helsing doen sy bes om te keer dat Dracula die wêreld oorneem. Van Helsing en sy helper baklei teen Dracula en sy helpers, Frankenstein en ´n weerwolf. Hoeveel eenvoudiger kan dit nou wees?
Kate Beckinsale lyk asof sy deur haar lyne jaag om ´n afspraak iewers na te kom, om nie te praat van die aangeplakte aksent waarin sy dit doen nie. Behalwe vir Jackman, is die res van die vertolkings heelwat swakker.
Hierdie film is so sonder siel dat jy moontlik op ´n stadium mag dink jy kyk na ´n stuk animasie. Dit is ook veronderstel om ´n riller te wees, maar ek wag nou nog om te skrik.
2/10
(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)
