Nommer 37 is nou beskikbaar op DVD, Box Office en spog met splinternuwe musiekvideo deur Linkris.

Die Ghoema-benoemde kletsrymer, Linkris the Genius, het pas die musiekvideo van sy treffer, “Nommer 37”, vrygestel wat ook die amptelike temalied is van die lokettreffer, Nommer 37. Hierdie aangrypende kletsrym-verwerking skakel perfek in by die gevoel van hierdie misdaadriller en wat dus die perfekte keuse toe die klankbaan saamgestel is.

Lindley Heynes, ook bekend as Linkris the Genius, is ’n Suid-Afrikaanse kletrymer van die Kaapse Vlaktes. Hy gebruik Afrikaanse en Engelse lirieke om prentjies te verf vir sy stories. Die sanger beskryf homself as ’n “sosiaalbewuste boom-kletsrymer” en noem sy musiek “wortelmusiek”, omdat hy dit as ’n voertuig en platform gebruik om die mense in sy gemeenskap te bemoedig. Hy is ook bekend vir treffers soos Game Change, Meditasie en Omdat Ek Kullid Is.

Buiten vir die opwindende nuus oor die vrystelling van die musiekvideo en DVD, is regisseur, Nosipho Dumisa, ook onlangs vereer met die Silwerlens-toekenning by die jaarlikse Silwerskermfees in Kaapstad. Sy het ook die Cheval Noir Jury-prys gewen het vir Beste Regisseur by die Fantasia Internasionale Rolprentfees in Montreal, Kanada, vir haar eerste speelfilm.

Nosipho wat oorspronklik van Durban af kom, maar tans in die Kaap woon, was al die regisseur van verskeie advertensies, televisiereeks- en realiteitsreeksvoorskoue, leefstylprogramme en kortfilms. Sy is ook een van die vervaardigers van die gewilde kykNET-sepie, Suidooster.

Hierdie Kaapstadse produksie, wat aan die wêreld bekendgestel is tydens die internasionale SXSW-rolprentfees in Texas, is gekies is om die land verder te gaan verteenwoordig by die agtiende jaarlikse Internasionale Neuchâtel Fantastic-Rolprentfees (NIFFF) in Switserland, vanaf 6 tot 14 Julie 2018 en was ook deel van die Sydney-Rolprentfees in Junie 2018. Dark Star Pictures het ook eksklusiewe regte bekom het om die fliek in Noord-Amerika te versprei. Die Noord-Amerikaanse vertonings sal in New York en Los Angeles begin, waarna dit ook vroegwinter op ’n DVD-op-aanvraag-basis vrygestel sal word. Reel Suspects het verder ook verspreidingsregte vir die rolprent in China, Duitsland, Oostenryk, Switserland en Japan bekom.

Nommer 37 is ’n spanningsbelaaide grootskerm-ervaring, wat gebaseer is op die SAFTA-bekroonde kortfilm met dieselfde naam, waarvan Nosipho Dumisa en Travis Taute die regisseurs was. Dit is een van daardie flieks wat kykers op die punte van hulle stoele sal hou tot en met die laaste toneel en vertel die verhaal van Randal Hendricks wat onlangs deur ’n ongeluk gestrem gelaat en nou rolstoel- woonstelgebonde is. Hy is kniediep in die skuld by ’n sosiopatiese geldskieter met die naam Emmie (Danny Ross), wat sy pond vleis eis. Wanneer sy toegewyde meisie, Pam (Monique Rockman), vir hom ’n verkyker present gee kan hy sy bure dophou en sien hy op ’n dag hoe ’n gevaarlike bendeleier, Lawyer (David Manuel), ’n moord pleeg en besluit om hom af te pers vir geld. Met verraad en gierigheid om elke hoek en draai, neem die gebeure wat volg hulle op ’n lewensgevaarlike reis, soos wat die wêreld rondom hom verder en verder in chaos gedompel word.

Die fliek is vervaardig deur Bradley Joshua en Benjamin Overmeyer van Gambit Films, in samewerking met kykNET Films, M-Net, XYZ Films en Die Departement van Handel en Nywerheid (DTI). Dit is plaaslik deur Filmfinity (Edms) Bpk. versprei. Sandi Schultz, Deon Lotz, Elton Landrew, Ephraim Gordon and Amrain Ismail-Essop is ook in die rolprent te sien.

Lewer kommentaar

Leave a Reply