X-Men Origins: Wolverine

 

Met: Hugh Jackman, Liev Schreiber & Ryan Reynolds
Regisseur: Gavin Hood

Die Suid-Afrikaanse regisseur Gavin Hood van Tsotsi-faam maak sy internasionale buiging met X-Men Origins: Wolverine. Dit is nie sy eerste uitstappie in Hollywood na 2005 se Tsotsi nie. Rendition in 2007, met Reese Witherspoon, Jake Gyllenhaal en J.K. Simmons was sy eerste. Dit sal egter sy jongste film wees wat hom maak of breek, en ek voorspel dit gaan hom maak.

Die titel stel dit duidelik dat die storie handel oor Wolverine se oorsprong. Dit begin waar hy as baie jong seun onder tragiese omstandighede van die huis moet wegvlug. Ons maak ook kennis met sy broer, Victor, ‘n onaangename stukkie mens, uitstekend vertolk deur Liev Schreiber. Dit verhaal neem ons tot op die punt waar dit verduidelik hoekom hy nie in die eerste X-Men mooi kan onthou waar hy vandaan kom nie. Maak jou reg vir ‘n kinkel, of twee, in die kabel langs die pad.

Die film se inleiding is veral knap gedoen en volg die twee broers deur verskeie wêreldoorloë tot by vandag.

X-Men Origins: Wolverine is alles wat jy verwag van ‘n fliek oor ‘n superheld. Wat die jongste in die X-Men-reeks help is Hugh Jackman se goeie vertolking. Dit is nou die vierde keer dat hy Wolverine is en hy weet presies wat hy doen. Waar hy soms te dramaties raak in die vorige rolprente, het hy die keer die balans gevind. Hy is ‘n properse cool held.

X-men Origins WolverineAan die negatiewe kant wil mens eerder hê ‘n prequel moet maar eerder eerste geskiet word. Hugh Jackman is nie net meer tuis in Wolverine se vel nie, maar duidelik ook ouer in hierdie film. Opvolgfilms is deesdae kort op mekaar se hakke en gehore sal kan sien die “jong” Wolverine is eintlik ouer as wat hy in die toekoms gaan wees.

Nog ‘n irritasie is Ryan Reynolds. Hy is ‘n talentvolle akteur, maar sy karakters lyk almal dieselfde. Dis half ‘n verligting wanneer ons hom op ‘n stadium sien met sy mond toegeplak.

As jy lekker vermaak vir ‘n Vrydagaand soek kan jy nie ‘n fout maak met hierdie fliek nie.

X-Men Origins: Wolverine kry ‘n dawerende JA.

bydrae: JM

Lewer kommentaar

Leave a Reply