In en om die pastorie

Stuur jou verhale na bydraes by roekeloos.co.za

Die kerk verleen hom juis ‘n groeiplek te wees vir karakters, want binne die kerklike omgewing is hulle veilig. Kom ons erken dit dat hulle die mense is wat kleur aan die lewe gee.

Ou Ds.Van der Merwe (Swart Willem) had nie veel erg gehad aan Koos (Skeiding) Uys nie – skynbaar was hul politiek verskillend. Tydens ‘n kerkraadsvergadering moes die eerwaarde leraar verslag doen van sy besoekwerk die afgelope jaar. Die distrik was groot en wyd en Ds. Van der Merwe kon net die helfde van die gemeentelede besoek het. Koos Skeiding het opgestaan en gesê dat die dominee oor sy werf gery het en hom nie besoek het nie. Wat die ou vader nog meer reg gegee het om die saak te stel, was dat hy ouderling was. Die leraar behoort darem die ouderling van die wyk te besoek. Die Godsman se antwoord was: “Sit broer, jy is van die helfde wat ek nie besoek het nie!”

Dié einste ou dominee het blykbaar ‘n vloek oor die Esperanza Hotel uitgespreek. Die treine was vroeër baie meer gereeld en stasieperonne het nie net watergate gehad vir die stoomtreine nie, maar ook vir dorstige passasiers! Dit alles byna ‘n klipgooi van die kerk en die pastorie af. Hy het dit sy goddelike roeping gevoel om die hotel met sy euwels te beveg. Hy het selfs die kerk (of was dit eintlik sy eie saak?) in die Appèlhof gehad. En soos vele kere, het die kerk tweede viool moes speel en baie geld verloor. Met dié het hy ‘n vloek oor die hotel uitgespeek en geweier om lede van die sindikaat wat hier betrokke was te begrawe. ‘n Leraar van elders moes die roudiens en teraardebestelling waarneem, terwyl Dominee en Mevrou Witsand toe gery het. Toe was dit nie ‘n mooi geteerde pad nie maar ‘n stofpad met 24 hekke soontoe en 24 terug. Die pastoriemoeder moes vaal gevoel het, want sy was die sondebok – sy moes die hekke oop- en toemaak, sodat die dominee sy punt kon maak.

Die kerkraad koop toe die prokureur se huis, wat naby die kerkplein was, vir ‘n pastorie maar dit was langs die einste hotel. Ek onthou hoe vele Vrydagmiddae en Saterdagoggende aan my studeerkamerdeur geklop is: “Of die oubie nie ‘n voorskotjie sal maak net tot volgende week nie”. Ek het later dit begin geniet om na die verhale van ‘n “oorvloedige” volgende week te luister – hoe die “slegte hierdie week” en “voorspoedige volgende week” al wat ‘n behoefte is sal voorsien. Ek het amper geswig voor blatante eerlikheid: die Saterdagoggend was ek juis besig om my aarbeie te oes toe die dorstige man by my aankom: “Gee my geld vir ‘n koue bier. Kyk hoe warm is dit, en hoe dors is ek nie!” was sy eerlike versoek. Toe ek die nuus vir hom breek dat ek die predikant is, was sy antwoord heel vining: “‘n Pintjie melk sal ook goed wees.” Ek wil net sê dat oom Eddie en tannie Linnie Schori die sagste stuk t-been kon opdis wat ek al geëet het – jammer dat hul tradisie verdwyn het. Was dit dalk die gevolg Ds. Van der Merwe se vloek oor die gebou?

Ds. Daneel het my ook tot nadenke gestem want ons het iets in gemeen. Beide van ons het as proponente op Heidelberg aangekom en hy het ook hier afgetree. Sy hele bediening van byna veertig jaar was hierdie een gemeente, Heidelberg Kaap (‘n voorbeeld wat ek nie graag sou wou navolg nie)! Die gemeente moes hom aanvaar het want by geleentheid het die kerkraad besluit om vir hom ‘n hele eetservies te laat maak met ‘n syaansig-grafure van hom op die bord. Dit was van pragtige wit porselein met ‘n donkerblou insetsel.

Volgens die familie het hy die eerste oggend soos gewoonlik sy pap geëet en toe hy by die boom van die bord kom, was hy vreeslik ontsteld want “dit was soos pap in sy gesig”. Die vurige heer het daar en dan al die porselein, waarop hy sy hande kon lê, stukkend gegooi. Volgens die Daneelnasate, was daar net twee vleisskottels wat oorleef het. Die een is in die besit van ‘n Daneelnasaat en die tweede het deur die jare soek geraak. Nadat die storie rugbaar geraak het, het tannie Joekie van Deventer dit uit haar “sideboard” in die sitkamer gehaal en vir die gemeente geskenk. Dieselfde informant het vertel van die Daneelkinders wat, soos enige pastoriekind, net altyd gesien het hoe die lekkernye van die pastorie na die gemeente gekanaliseer word. Vir eie gebruik was daar maar min geleentheid. So was daar in die spens die heerlikste ingelegde vye. Hierdie vye is net in die koekstruif met die “groot dae” gebruik en as Mevrou Dominee die susters onder die jakarandaboom in die agterplaas trakteer op ‘n “high tea”.

Die pastoriekinders, soos gewoonlik gekontamineer deur die gemeente se kinders, het ‘n halwe bottel vroeëvye opgeëet en moes die bottel weer vol kry voordat Ma dit ondek. Bokmis is soos ‘n miskruier versigtig bymekaar gemaak en gerol tot dit die gewensde grootte was en netjies in die bottel teruggepak. Meer weet ek nie, maar as ‘n man hom kon vervies oor sy gesig wat vol pap is en dan byna die hele eetservies kon stukkend gooi, het die kinders beslis verbygekom om nooit weer so ‘n “mislike” daad te pleeg nie! Hulle moes seker erken het dat dit ‘n “mistakie” was!

Ds. Konstant Steyn het van Loeriesfontein na George-Bergsig ‘n beroep aanvaar. Getrou aan die gasvrye Boesmanland was sy vrieskas tot oorlopens toe vol. Met die trekkery is die vrieskas so half leeg gemaak en in die vervoerwa gelaai, en die inhoud wat uitgelaai is, is versigtig teruggepak. By George aangekom moes dieselfde prosedure gevolg word. Die “Georgiers” was seker maar nuuskierig om te sien wat in die leraar se vrieskas ingepak is. Daar het ‘n gerug ontstaan dat die dominee baie lief moes wees vir aartappels want in die vrieskas was etlike pakkies gebraaide, bevrore aartappels! Die nuuskierigheid is deur die onkunde uitgevang, want die “aartappels” was alles behalwe aartappels – dit was skuinskoeke, ‘n tradisionele oliebolkoekie. As ek reg onthou het oom Konstant nie eens aartappels geëet nie!

bydrae: Emile de Villiers

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar