Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

Die wagkamer

Wat gebeur met die wat vir hulleself time-out vat voor dit hulle tyd is? Die wat besluit hulle het nou oorgenoeg gehad … Genoeg teleurstelling … genoeg verwerping … genoeg van mense, genoeg van alles! Genoeg emosionele pyn wat voel of dit elke traan wat hulle al gehad het, nog het, of ooit sal hê,  uit hulle uitgedruk het. So hard dat dit voel of hulle harte kan bars van seerkry …

Die wat weet hoe dit voel as pyn nie meer seer is nie, dit nie eers meer ‘n oog laat toeknyp of ‘n asem laat  intrek nie Wanneer mens jou teen jouself wil beskerm, maar jou nie van jouself kan skei nie. Dan vat jy time-out om van jou seer siel af weg te kom en om die verligting van niks voel te kan voel.

Is daar dan ‘n wagkamer waar jy gaan sit en wag tot dit jou eintlike tyd is? Almal het mos ‘n tyd om te gaan, ook maar onregverdig, vir die wat meer moet verdra as wat hulle regverdige deel sou moes wees … Dan is dit seker reg dat die wat moeg geraak het besluit om vroeër ’n time-out te vat.

Waar is die wagkamer? In die middel van die see, daar waar dié wat so die see inloop en nie weer terugkom dalk daarvan weet? Waar die “Blue space” veronderstel is om kalmte te gee, waar die branders gebore word,  nog heel golwe is, voordat hulle stukkend spoel teen die rotse en wegraak in die sand. Die perfekte plek vir ‘n wagkamer.  As ek ‘n wagkamer kon bou vir time-out siele sou ek dit daar bou …

Wat doen hulle in die wagkamer? Wag hulle om te hoor wanneer hulle eintlik moes doodgaan en waarheen hulle hiernamaals dan is?  Sit en kyk hulle op big screen televisies hoe die lewendes hulle daaglikse rotresies hardloop?  Dalk identifiseer hulle die volgende kandidaat wat by hulle sal kom aansluit in die wagkamer?  Speel hulle dan gameshows oor wie gaan kom en waarom en wen iets as hulle reg gekies het?

Kyk hulle ooit op die wagkamer se TV’s  hoe die mense oor hulle huil, of skip hulle sommer net daardie kanale. Ja, skip dit, dit is nou te laat vir trane, of is dit dalk te seer om te kyk, met of sonder siel …

Hulle sit net daar … voel niks, dink niks, sien niks, praat niks … Sit net en wag, met leë oë soos hulle maar gemaak het toe hulle nog gelewe het ook, in hulle wagkamer …

Indeks van digters

Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar