Indeks van digters
Stuur jou gedigte na bydraes by roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.

In Sy Hande
Here, U ken ons behoeftes, U weet wat ons kort
Hoekom val teëspoed soos water deur ‘n stort
Probeer ek my bes met alles in mag
Kyk hoe hy struikel fluister hul sag;

Mense wil oordeel, toeskouers klap hande
Hulle aksies & optrede byt harder as tande
Woorde is kettings wat vasklou soos slawe
Staan daar gereed om jou siel te begrawe;

In hierdie lewe is ons almal bloot net ‘n mens
Niks meer as ander, al was dit jou wens
Daar’s ‘n roeping vir elkeen, ‘n taak om te voltooi
Glo dit of nie, selfs ook vir jou booi;

So kyk op na die berge, die hulp is reeds daar
Al voel die ou laste soms bitterlik swaar
Die oordeel van ander is stof in die wind
Want hier in Sy hande bly jy nog Sy kind.

Wildste Waters
Dis gevaarlik op die waters enige tyd van die jaar
Span jou seile laag jy kan gou begin vaar
Met jou krop moet jy mooi werk, deel met jou vrou
Die spanning & swoeg is vir albei ‘n dik tou;

Die gety draai maar stadig, storms van vêr
Mense raak verlore, soos skape wat blêr
Anker jou siel, in hoop van geloof
Vrede in die huis word vinnig beroof;

Die horison trek vaag as nagte word lank
Hou vas aan genade al limp jy ook mank
Raak die kompas verlore & swelle styg hoog
Na die storm kom daar, tog weer ‘n reënboog;

As die hout begin kraak & die boot begin lek
Daars altyd iemand wat omgee, vir jou & ek
Vier klein matrose, met die vrou aan my sy
Deur die wildste waters het God ons gelei.

‘n Wenner
Diep in die waters in die middel van ‘n orkaan
As ‘n seilende skip in die Bermuda vergaan
Soos die Titanic op koers na ‘n ysberg ramp
Die lewe se sorge soos branders wat stamp;

Die wêreld gebroke, val soms stadig uit mekaar
Sien ek dieselfde in hierdie spieël waarin ek staar
Dink aan Perfect Storm, Billy met sy boot
Dalk was die Flemish Cap net ‘n titsel te groot;

Daar’s krag in die draai, ’n nuwe asem wat wag
Na die donkerste uur kom ook die helderste dag
Al word golwe soos berge, dan nog winde wat waai
My lewe oopgevlek in die boek wat jy blaai;

Dan trap ek weer hard, hou my kop op die doel
Klein oorwinnings bring ‘n vreedsame gevoel
‘n Wenner word selde in ‘n oomblik gebore
Eerder daar waar hy opstaan, uit die stof van verlore.

Reuse
Staan ek soos Dawid tussen al die groot reuse
Veg, vlug of vries, maak steeds my eie keuse
Neem tyd vat dit stadig, vermy impulsief
Groet lewe gedurig maak gou asseblief;

Die klippe in my sak is die woorde wat ek skryf
Skade van die verlede by die rivier af laat dryf
Lê gister se Goliats dan verslaan & begrawe
Realiteit van werklikheid, Hoe baie is nog slawe;

Vier klein gesigte, my skild & my krag
Hou die wagpos deur die donkerste nag
Met ‘n vrou aan my sy, die anker in die storm
Het my lewe & drome vir die toekoms gevorm;

So laat die reuse maar dreun & aanhou met raas
Ek is nie meer die slaaf nie, ek is nou hul baas
Met pen in die hand & die waarheid in my bloed
Sal ek mense met liefde ook nou in vrede kan groet.

Hoe lyk jou grond
Op wat saai jy &, hoe lyk jou grond
Het jy gekyk na wat sê die Verbond
Plant jy in onkunde, lê die beddings verstrik
Die vyand loop altyd reg binne jou mik;

Die vrug van die wêreld is vinnig eers soet
Maar dit tap al die murg uit van Jesus se bloed
As jy ploeg in die donker dalk dink jy het pret
More-oggend stokalleen in die bed;;

Kyk na die oes wat jy nou moet gaan haal
Is die skure vol seëning of bitter en kaal?
Die Here vra offers, die beste van jou krop
Nie net die krummels van wat jy dink is flop;

So as jy kyk deur die venster ‘n voorbeeld daar soek
Vergeet van die mense lees eerder die Boek
Die Gees maak dit duidelik sal dit op jou hart druk
God se genade sal jou verwagting laat skrik.


Sy Stilte
Die lewe raas terwyl die wêreld jaag
Ontsteltenis se hol kol op die maag
Getref deur bekommernis siel dan vol vrees
Hoe raak dit so maklik om die mensdom te lees;

Ken self daardie paaie, het lank daar geloop
Hoe lekker ‘n broodjie met peanut butter & stroop
Afgetrek is jou aandag jy’t konsentrasie verloor
Droë gras kort water, ‘n swembad soek chloor;

So is die behoeftes vir lewend of dood
Alles wat klein is word later ook groot
Gebeure is vir almal wat niemand kan ontsnap
Al dink jy jou storie is maar ‘n vuil ou lap;

Vlug van probleme, gee pad van die seer
Net na die storm dan kom dit alles maar weer
Al spring jy oor berge, hardloop op teen bulte
Jou werklike krag word gevind in Sy stilte.

Lewer kommentaar

Leave a Reply