Stuur jou gedigte na bydraes@roekeloos.co.za Digters is ook welkom om een foto te stuur vir publisering.
besef
stres is soos om
op ‘n dun kabel te stap
gespan tussen twee geboue
alleen sonder veiligheidsnet
wet van swaartekrag rem
en trek heeltyd aan jou
om te ontspan
na jy veilig oor is
voel wonderlik en sag
maar die gespande emosie
versteek homself diep onder
die bewuste van jou hart
ouderdom is sneller
van jou diep geborge stres
sonder waarskuwing verskyn
en word jy bewus daarvan
neem dit tyd om te besef
wat die oorsprong is
liefdes oomblikke
die oggendster blink in jou oë
sonstrale kleur jou vel in pastel
jou hare blink in goue strepies
my hart versag, ek adem jou in
oor jou skoonheid heers vrede
gedagtes rimpel oor jou aangesig
nooit eentonig maar tog gedweë
verdiep my hart se wense saam
lang skadu strepe vestig geheue
laatmiddag grys in herfs kleure
plooi jou aangesig in diep spore
laat my trane vlak en bewerig lê
oor die donker blou nag se wolke
soek sekelmaan ook naarstiglik
na sy plekkie op die silwer rant
erwyl my siel op sy reis vertrek
c’est bon
op elke dag was daar iets nuuts
van kleins af was hy met my gewees
toe ek allergies vir die entstof was, en flou geword het
toe ek my kop met ‘n graaf stukkend gekap het
toe ek vir vier ure in die rioolpyp vasgesit het
toe ek alles wat ek gehad het verloor het
toe ek ‘n hartomleiding moes ondergaan
toe ek my nek op drie plekke breek
toe ek onder operasie stuipe kry
toe ek pasaangeër moes kry
toe ek vandag besef
dat ek al ouer is
as meeste van my
vriende wat nog leef
weet Hy steeds daarvan
et il a vu que c’était bon
et c’était bon
borrel
die lewe druis in my
van vroeg af kom die droom
van nuuts af hardloop ek vry
niks wat my op aarde vashou
selfs nie die afgeleefde lyf
stuit my meer nie
my gees is vrolik
die oggendson se strale verlig my
oranje strepe van genot speel oor my
uit elke voëlgeluid put ek meer krag
van die meeu se skril geroep
tot die mossie op die stoep
douvoordag se gedagtes priem
dit skeur die voorhangsel oop in my hart
selfs die donkerste drome van die nag
raak vinnig weg soos mis in die son
helder klink Sy vriendelike Woord
kom na My Ek sal jou vrede gee
die
die winter is hier
branders woel en maal
spoel wit strome skuim
wat op strand vomeer
my hart is stil en rustig
vanoggend is daar stilte
soms ‘n brak wat blaf
son agter wolke skuif
elke siel roer saans met
die, dié van sy bestaan

Baie dankie vir die plasing.
Baie geluk Charles, super trots op jou
Aangrypend, dankie dat jy dit deel.
Baie mooi gedig. Kan digter in sy omgewing sien.
Baie mooi en raak!