My Vrou se Man se Vrou, speel vanaf 26 tot 29 Janaurie by die Roodepoortteater.  Vir besprekings, besoek www.roodepoorttheatre.co.za, of skakel (011) 472-1374 of (011) 674-1357.  Die oorspronklike stuk, Run for your Wife, hou die rekord vir die langs-lopende klug op Londen se Wes-einde en het ook rekords in Suid-Afrika laat spat.  My Vrou se Man se Vrou word met die trotse ondersteuning van Crown National, die trotse tuiste van Six Gun Grill, Hollywood Costumes, Van Loveren Wyne, Britz Couriers and Removals, Ambassador Execudrive en Lift aangebied.

Ray Cooney is ’n meester van die klug.  Sy Run for your Wife speel al langer as 25 jaar in Londen se Wes-einde.  Die hoofkarakter in My Vrou se Man se Vrou is John Smith, ’n Londense taxi bestuurder wat saam met sy vrou Mary in Highgate woon … en ook met sy vrou Barbara in Finchley, net vier minute uitmekaar.  Natuurlik is die twee mevroue Smith salig onbewus van mekaar se bestaan, aangesien John sy ongereelde werksure gebruik as ’n verskoning om sy dubbele lewe weg te steek.  Maar ’n ongeluk en ’n verkeerde adres veroorsaak ’n kettingreaksie en John moet bontstaan om te keer dat sy geheim op die lappe kom!  En om sake te vererger, moet hy sy nuuskierige bure, ’n vasberade joernalis en twee agterdogtige polisiemanne ontduik!  Die twee hoofrolle word deur Phillru van Achterbergh (John Smith) en Botha Enslin (Stanley Garner) vertolk, ongetwyfeld twee van Suid-Afrika se beste komiese akteurs.  Voeg daarby name soos Marissa Claassen (Mary Smith), Danielle Britz (Barbara Smith), Thiart Li (Joernalis/Bobby Franklyn), Stefan Vermaak (Speurdersersant Trouten) en Etienne du Plessis (Speurdersersant Porterhouse), en jy het ’n trefferproduksie op hande.

Regisseur Frans Swart sê dat Lefra Produksies besluit het om My Vrou se Man se Vrou terug te bring verhoog toe.  “Ons het dit in 2012 vir die eerste keer opgevoer en groot sukses met die man en sy twee vrouens gehad.  Na tien jaar is dit beslis tyd vir ons om hierdie trefferklug weer verhoog toe te bring.  Daar is ‘n nuwe generasie wat nog nie hierdie mal stuk werk ervaar het nie en ek glo almal gaan dit weer van voor af geniet,” sê Swart.  Hy sê ook dat Covid-19 die produksie ‘n lelike streep getrek het.  “Ons trokke was letterlik gepak om KKNK toe te gaan en daar kondig die President die inperkingsregulasies aan.  Ai!  Vir twee jaar het ek en die spelers gewag om mense weer te laat lag, maar nou gaan dit net soveel lekkerder en snaakser wees!  Mense wil nou graag uitkom en lag is die beste medisyne deur al die wroeginge waardeur ons moes gaan die afgelope twee jaar!”

Maar laat John Smith, gespeel deur Phillru van Achterbergh, self vertel:  “Ek is John Smith.  Taxibestuurder.  Ek is lief vir my werk.   Maar die een ding waarvoor ek liewer is, is my vrou Mary.  O ja… en my vrou Barbara.  Ja, ek het twee vrouens.  Alles het so goed gegaan, tot ek een aand! ‘n Hou teen die kop en ‘n ongeluk met my taxi en my skedules loop heel deurmekaar met Mary en Barbara!  Gaan hulle van mekaar uitvind?”

Kom vind uit wat gebeur verder by die Roodepoortteater vanaf 26 tot 29 Janaurie 2023.  Vir besprekings, besoek www.roodepoorttheatre.co.za, of skakel (011) 472-1374 of (011) 674-1357.

Danielle Britz (Barbara Smith), Phillru van Achterbergh en Marissa Claasen (Mary Smith)
Danielle Britz (Barbara Smith), Phillru van Achterbergh en Marissa Claasen (Mary Smith)

Lewer kommentaar

Leave a Reply