Appel het Die Heuwels Fantasties by The Doors in Johannesburg gaan kyk toe hy 19 jaar oud was. Hy vertel: “Dit was soos roomys in my ore. Total bliss!” Jare later is Appel self, nes Die Heuwels, van Suid-Afrika se mees geliefde en mees suksesvolle kunstenaars en nou het dié twee saamgespan om `n splinternuwe somerliedjie in Desember 2022 uit te reik.

Pierre Greeff van Die Heuwels Fantasties beaam dat hulle Appel al vir baie jare ken en nog altyd lekker met hom kon gesels oor die skeppende kant van die musiekbedryf. Hy sê: “Dit was maar altyd net `n kwessie van tyd voordat ons sou saamwerk. “Nora Vlok” was so halfpad gepen toe stuur ons dit vir Appel om die storie te voltooi. Sy vers en bydrae het haar narratief perfek voltooi en siedaar, “Nora Vlok” het omtrent lewe gekry.  Dis vir al die amazing sterk vroue wat ons groot gemaak het en saam met ons deur die lewe stap!”

Appel voeg by: “Hierdie is vir die spreekwoordelike ‘ystervuis in `n fluweelhandskoen’-vroue in ons midde. Die Tawwe Tina’s met meer staal in hulle are as die mans om ons. Ken jy vir Nora Vlok?”

Die video vir Nora Vlok is by Welgemoed Laerskool geskiet en is pas uitgereik. Pierre Greeff, Hunter Kennedy en die aktrise Marguerite van Eeden, wat ook in die video speel en dit vervaardig het, was aldrie hier op skool in hul laerskool-dae. 

Hendrik Niewoudt en Mienke Ehlers was die regisseurs, die konsep is deur Damiane van Reenen en hy was ook DOP en agter die skerms is versorg deur Roy Harris. Die aktrise Mienke Ehlers vertel dat sy nog altyd belang gestel het om in die regisseur-stoel te wees. “Die stel van Nora Vlok het `n gemaklike, veilige hawe geskep om in te speel en leer. Dit was `n absolute span poging. Ek is al vir jare `n groot fan van Die Heuwels en dit was lekker om te sien Fred, Pierre en Hunter is great ouens. Appel self is ook die sout van die aarde.”

Greeff vertel dat 2022 `n besonderse jaar was: “Dit was amazing om weer voltyds te kan toer en ons musiek neem na gehore hier en oorsee te neem. Die gevoel van dankbaarheid en samehorigheid oral waar ons gespeel het was regtig soos nog nooit tevore nie. 2023 is ons 15de jaar saam as `n groep. Ons sien daarna uit om te sien wat hierdie mylpaal van `n jaar gaan bring.”

As mens vir Appel vra wat sy hoogtepunte van 2022 was vertel hy: “Alles. My lewe is `n hoogtepunt, elke dag en elke mens wat ek outmost; my vrou, my dogtertjie, ons honde. Elke oomblik is kosbaar.”

Stroom “Nora Vlok” hier: https://distrokid.com/hyperfollow/dieheuwelsfantastiesandappel/nora-vlok

Die liedjie was opgeneem by Sunset Studios en is vervaardig deur Fred Den Hartog.

Nora Vlok single cover
Nora Vlok

Lewer kommentaar

Leave a Reply