Haydee Hollander
9 Augustus 1922 – 25 November 2004
Die bekroonde digter Sheila Cussons is op 25 November 2004 in die ouderdom van 82 in die Katolieke inrigting Nazareth House in Vredehoek oorlede waar sy die afgelope tien jaar gewoon het. Dieselfde Nazareth House waar die eerste foto’s in byna 25 jaar van Cussons geneem is.
Die Katoliek wat in Afrikaans gedig het, word deur baie in die literêre wêreld beskou as een van die grootste religieuse digters van die Afrikaanse literatuur.
Die ernstige liefdesverhouding tussen haar en NP van Wyk Louw en hulle gepaardgaande digterlike gesprek word in diepte bespreek in Jaap Steyn se biografie oor Louw wat ‘n jaar of twee gelede verskyn het. Buiten vir haar poësie, was Cussons ook as kunstenaar bekend. Die treffende omslag-illustrasies op haar bundels is haar werk sowel as die illustrasies vir Nienaber se boek Keerweer. Sy het as kunstenaar naam gemaak lank voordat haar eerste digbundel verskyn het.
Sheila Cussons se poësie is met verskeie groot pryse bekroon, onder meer die Eugene Marais-, CNA- en Luyt-prys, die W.A. Hofmeyr-prys (drie keer) en in 1983 die Hertzog-prys vir haar hele oeuvre.
Haar laaste bundel, Die asem wat ekstase is, is ‘n versameling van haar nie-religieuse verse en verskyn in 2000. Ander publikasies is die Omtoorvuur (‘n keur uit haar gedigte, 1982), Poems (vertaalde gedigte, 1985) en Die vorm van die swaard en ander verhale (‘n vertaling van Borges-verhale). Maar sy het vir die eerste keer aandag getrek met ‘n aantal verse in die versamelbundel Stiebeuel (1946). Haar bundel Plektrum verskyn eers in 1970, maar is onmiddellik gereken as een van die merkwaardigste digdebute in Afrikaans. Plektrum is bekroon met die Eugène Marais-, Ingrid Jonker- en W.A. Hofmeyr-prys.
Ná ‘n ernstige brandongeluk in Spanje (waar sy lank gewoon het), volg Die swart kombuis (1978) waarin sy haar lyding en verminking deur mistieke oorgawe transendeer. Hierna stróóm poësie uit haar voort. In dieselfde jaar nog verskyn Verf en Vlam en in 1979 Die skitterende wond en Die sagte sprong. Daarna Die somerjood (1980), Die woedende brood (1981), Verwikkelde lyn (1983) asook ‘n kortprosabundel, Gestaltes 1947 (1982). Ná haar terugkeer na Suid-Afrika volg Membraan (1984), Die heilige modder (1988, ook verwerk tot toneelstuk), Die knetterende woord (1991), en ‘n Engel deur my kop (1997).
Cussons het in die skone kunste aan die Universiteit van Natal in Pietermaritzburg gestudeer met D.J. Opperman as haar mentor. Sy was Opperman se eerste protégé. Tot met sy dood het sy haar gedigte met hom bespreek en dit vir kommentaar aan hom voorgelê. Cussons het ‘n onvoorwaardelike geloof in Opperman se oordeel oor haar werk gehad. Dit was soms ‘n twispunt tussen haar en Louw wat, anders as Opperman, gemeen het dat sy reeds vroeg in die vyftigerjare gereed was om te publiseer.
Kort hierna is sy saam met haar eerste eggenoot, die literator en kurator, C.J.M. Nienaber, na Amsterdam waar sy verder in die etskuns studeer. Meer as dertig jaar gelede het Cussons van haar sketse, tekeninge, skilderye, manuskripte en foto’s aan Nienaber gegee wat die kern sou vorm van die Naln versameling waarmee hy toe begin het.
Ná hul egskeiding is sy getroud met die Spaanse sakeman mnr. Joan de Saladrigas en hulle vestig hulle in Barcelona waar Cussons tot die Rooms-Katolieke geloof oorgaan.
Sy keer na 21 jaar alleen na Kaapstad terug waar sy tot met haar dood gewoon het. De Saladrigas het haar in Augustus vanjaar besoek.
Cussons was ook betrokke by radio- en vertaalwerk, onder meer met ‘n kunsprogram by die Wêreldomroep.
Twee jaar gelede het die Universiteit van Stellenbosch haar met ‘n retrospektiewe uitstalling vereer.” ‘n Gedig kom nie altyd soos die wind op nie.
Soms moet dit gehaal, gesoek word,
Oopgedink word uit ‘n enkele suinige gegewe,
Soos die uitpluis, fyn en geduldig, van ‘n digte sy kokon
Of sommer ‘n bolletjie wol.”
uit: teesuiker – Sheila Cussons
Bronne:
Tafelberg, http://www.nb.co.za
Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (Erika Terblanche)
Boekwurm.co.za
