Moses, Jesus en ’n bebaarde ou oom speel gholf.
Moses se dryfhou het te veel woema. Dit land op die skoonveld, maar bly aan met rol in die rigting van ’n dam. Op daai oomblik lig Moses sy gholfstok en die water gee pad voor die bal wat veilig aan die ander kant van die dam uitrol.
Jesus se dryfhou vat dieselfde pad, maar sy bal pot nooit. Jesus loop uit op die water en speel dit mooi terug op die skoonveld.
Die ou oom se dryfhou lyk aanvanklik pateties. Dit tref die heining, hop oor en beland in die pad buite die baan. Op daai oomblik kom daar ’n trok verby wat dit gelukkig weer stamp tot terug op die skoonveld waar dit ook in die rigting van die dam rol. Gelukkig beland dit op ’n waterlelie se blaar waar ’n padda sit. Die padda dink dis iets te ete en sluk die bal in. ’n Arend wat daar naby gesweef het sien die beweging van die padda en 10 sekondes later vlieg hy weg met die padda in sy kloue. Toe hulle oor die gaatjie vlieg val die bal uit die padda se mond en beland in die koppie vir ’n perfekte kolhou.
Soos hulle aanstap na die volgende gat fluister Moses vir Jesus: “Ek haat dit om saam met jou pa te speel.”
