Die skaduwee

(soos vertel deur Koos van der Merwe)

Koos vertel.

Elke jaar by Kersfees en Nuwejaar het hulle by Kakamas so ‘n Boerefees. Dan word daar nou boeresport gehou en allerhande speletjies gespeel. Een van die items op hierdie boeresport, en onthou alles was daai tyd nog net grondpad, was om met ‘n fiets te ry van Kakamas tot by Augrabies. En terug. Daar was die ou, sê maar hy was ‘n ou fietsryer. Hy sê daai koppe was sy kos.

fietryersSo op ‘n kol. Hulle spring daai oggend daar weg, in Kakamas. Nou maak hulle vir Augrabies. Dis maar ‘n stywe ent en weer terug. Hy sê die manne spring daar in ‘n bolling weg, hulle bly so bymekaar hier op die gelykpad. Maar toe hulle daai hoogtes begin vat. Die koppe daar bokant Augrabies. Hy sê toe begin die manne uitsak. Manne sak uit. Later is dit net hy wat heel voor is. Hy trap maar, daai wiele sing. Hy sê hy ry later onder die manne uit, heel onder hulle uit. Hy sê toe hy so terugkyk kon hy hulle nie eens meer sien nie.

Hy sê toe begin die wêreld nou baie eentonig raak. Hy begin nou maar ‘n gesprek aanknoop met sy skaduwee. Hy gesels nou met die skaduwee. Kort-kort kyk hy en gesels hy met die skaduwee. Hy sê tot bo-op.

En toe hy bo-op kom, kyk hy nog vir laas so terug en hy sien nog geen siel nie. En hy sê hy wil kyk of hy nie die rekord kan opstel nie. Hy sê hy vou hom so laag oor die fiets en hy trap so hard hy kan hier af. Hy sê as hy ‘n klip vang sê die net: ping, ping, ping so trek die klippe hier van die voorwiele af.

Hy sê hy kyk op ‘n kol nog weer so terug en hy kyk of sy skaduwee nog oraait is en hy gesels nog so ‘n paar woorde met die skaduwee en toe hy so vorentoe kyk sien hy hier maak die pad sommer ‘n reghoek, hier reg voor hom! Jis, ou maat! Die ou sê hy gryp daai fiets en hy ruk hom op en hy sit hom dwars, maar sy spoed is te groot. Hy sê hy vang daai, daardie rotswand, op die hoek waar die pad nou draai en skielik wegswaai, vang hy met sy skouer. Die hele hemp is heel weg, hy’s vol velle. Sy hele arm, al die velle is af.

Hy sê maar hy sukkel om die ou fiets onder beheer te kry, want die hop op en af. Na so ‘n paar honderd tree toe het hy darem die fiets so min of meer dat hy weer onder beheer kom. Hy sê toe hy so terugkyk om te kyk of sy skaduwee nog oraait is. Toe sien hy, nee sy skaduwee het dit nie gemaak nie. Dies weg!

Lewer kommentaar

Leave a Reply