Die wiel is ‘n uitvindsel. Dit was nie soos die see sommer net hier toe God die Aarde geskape het nie. Iemand het die wiel uitgedink, ontwerp. Die persoon het besluit dis rond. Rond soos daai ring aan jou vinger. En wat rond is, kan mos draai, hetsy as gevolg van wind, dryfkrag, masjinerie, mense … Die werkwoord, ‘om te wiel’, beteken immers om in die rondte te draai. Amper soos die hemelruim het ‘n wiel geen begin en geen einde nie.
Die Afrikaanse woordeboek definieer die woord ‘wiel’ as ‘n ronde voorwerp waarop voertuie voortrol. Voertuie, nogal nie mense nie. Daar is gewoontelik vier wiele, want die vyfde wiel aan die wa is oorbodig. Ook as die rat van ‘n masjien, waar kleiner en groter ronde voorwerpe saamdraai om beweging voort te bring. Wanneer een wiel beweeg, draai die volgende een outomaties. As een deel nie werk nie, is die rat kapot.
Dan is daar die spreekwoordelike ‘wiel van die lewe’. Dis nou ’n onsigbare wiel. Abstrak, omdat dit nie met ons sintuie waarneembaar is nie. Dis die wiel waarop gelowiges van alle kulture en tale reis (almal in die rondte) in afwagting op beter dae (ons sit tussen die wiel). Waar ons wraak verregverdig, jy weet, elke hond kry sy dag.
Die gesegde ‘die wiel draai’ word deur die meeste van ons gebruik, of jy dit nou hardop preek, prewel of in jou gees verplaas. Jy gebruik dit wanneer jy glo jy verdien beter. Wanneer jy na ‘n lang getob tot die besluit kom dat die lewe jou wel iets skuld. Jy glo dit wanneer jy ander mense verwens. Wanneer jy God speel en persone se straf en lot aan hulle toeëien. Wanneer jy jou vyande verdoem. Jy is doodseker die wiel draai wanneer dit met jou goed gaan. Dis immers omdat jy so ‘n goeie persoon is.
Natúúrlik glo jy die wiel draai in jou guns. As jou eie oes swak is, dink jy selde aan wat jy gesaai het. Eerder dat die wiel sal draai, dat dit beter sal gaan. Maar wat ander saai, sal hulle gedwonge moet maai. Die wiel sal draai en hulle sal gestraf word. Dis ‘n doodmenslike denkproses. ‘n Alledaaglikse, trouelose handeling in ons reis van een plek na die ander.
Ons glo die wiel draai. Soos die Aarde om sy eie as en om die son. Om en om in sirkels, ‘n siklus … en so verander ons lewens, ons geskiedenis. En ‘n draaiende sirkel is ‘n tydgang van geen begin en geen einde nie. So is niks vir altyd nie. Tog word alles herhaal.
Soms is ons jas in die wiel. Dit spoor nie altyd nie en dan raak die rit onstuimig. Soms val jy af. Dan sou my ma ewe droog kwyt geraak het, “oom Paul het belowe dinge sal beter gaan. Hy het net nie gesê wanneer nie”. Dís bloot geloof.
En die wiel van die lewe is bloot ‘n gratis polis wat ons uitneem. Met die voordele dat jy beter voel wanneer dit rampspoedig gaan. En dit hou jou (skyn)heilig en uit die tronk, omdat jy ander net in jou kop kwaad aandoen.
Nou wonder ek sommer net. As ‘n wiel so op sy eie rol, gaan dit seker een of ander tyd omtol …

Dis so waar….
Yep, karma is ‘n bitch…