
“Die sop sal baie beter smaak saam met ’n stukkie brood” sê die eerste skilpad.
“Ons het nie brood nie” brom die tweede skilpad.
“Ek gaan beslis nie winkel toe nie” sê die derde en kleinste skilpadjie. “Sodra ek my voete by die deur uit sit eet julle twee my sop op.”
Maar die ander twee belowe plegtig hulle sal nie sy sop eet nie. So vat die klein skilpadjie, effe teësinnig, die pad winkel toe.
Die ander twee wag vir ure. Die ure word later dae.
Na twee weke wag die twee skilpaaie steeds vir brood.
“Ek dink nie hy kom terug nie” sê skilpad nommer een, “kom ons eet sy sop.”
Met die skuifel die klein skilpadjie vinnig by die deur in: “Sien jy ek het mos gesê!”
