Hiernamaals

‘n Egpaar van Gauteng het een winter besluit om vir ‘n langnaweek na Durban te gaan om ‘n bietjie te ontdooi. Omdat hulle albei werk, kon hulle nie saam vlieg nie. Die man het dus reeds die Donderdag vertrek en sy vrou sou hom die dag daarna volg. By sy aankoms het hy by die hotel ingeboek en toe ‘n e-possie aan sy vrou gestuur. Ongelukkig het hy een letter in haar adres verkeerd getik, sodat die boodskap by iemand anders uitgekom het. In Bloemfontein het ‘n weduwee pas van haar man se begrafnis af teruggekom. Hy was ‘n geliefde leraar wat na ‘n hartaanval oorlede is. Die weduwee het gou gaan e-pos aftap, in die verwagting om troosboodskappe van familie en vriende te kry. Toe sy die eerste boodskap lees, val sy flou neer. Haar seun storm die kamer in en kry sy ma op die vloer, en sien die volgende boodskap op die skerm:
TO: My geliefde vrou
FROM: Jou liefhebbende man
SUBJECT: Ek het aangekom!!
“Ek het so pas aangekom en is ingeboek. Ek sal sorg dat alles gereed is vir jou koms môre oggend. Ek sien daarna uit om jou weer te sien! Hoop jou reis is net so voorspoedig soos myne. Liefde!!
NS: Dit is regtig baie warm hieronder!”

Lewer kommentaar

Leave a Reply