Jors is ’n diep gelowige man, ten minste, dit is hoe hy homself sien. En soos verskeie ander diep gelowige mans hou hy van sy drankie so af en toe … elke Woensdag, Vrydag, Saterdag en Sondag na kerk.

Dis een van daai dae wat Jors huis toe strompel van sy plaaslike watergat af. Vir die soveelste keer is sy motorsleutels en selfoon weg en hy moet stap. En dis ’n vêr pad. 1,2 km as hy dit reg gelees het op sy kar sy speedometer.

By sy woonstelblok gekom is die hysbak boonop buite werking. Jors woon op die agste vloer.

Papnat gesweet en uitasem sluit hy sy woonstel oop. Om net ten minste sy asem terug te kry, gaan rook Jors ’n sigaret buite op die balkon. Dis hier waar hy die jong verpleegstertjie gewaar op haar balkon, drie vloere ondertoe. Sy het net ’n groot, los T-hemp aan en as hy reg gesien het, geen onderklere nie. Jors leuen vêr oor sy reling om beter te sien.

Dit was nie moeilik om te voorspel dat Jors se voete onder hom sou uitglip nie. Ook nie dat sy swaar bolyf hom vinnig oor die balkonreling sou trek nie.

In ’n laaste poging om aan die lewe te klou swaai Jors sy arm in die rigting van die balkonreling soos ’n wafferse Spider-man. Met die geluk wat net vir dronk mense en baba’s beskore is vind Jors se hand en die balkonreling mekaar soos in ’n wonderwerk.

Daar hang Jors. Met ’n baie mooi uitsig, maar ook met die nare gevoel van ’n man wat weet sy boepens is besig om sy linkerhand los te torring van die reling.

In sy oomblik van nood gil Jors: “Iemand help! Help asseblief! Iemand, is daar iemand!”

En skielik skyn daar ’n lig uit die hemele en ’n bulderende stem antwoord: “Ek, die Here jou God is hier! Laat los die reling! Ek sal jou vang!”

Jors was vir so ’n oomblik stil, vir sy hand gekyk, vir die lang pad ondertoe gekyk en bietjie gedink oor die saak voor hy iets gesê het: “Is daar iemand anders met nog idees?”

Lewer kommentaar

Leave a Reply