Koos het al jare die kafee op die hoek toe hy op ’n dag ’n donderende stem uit die hoogte hoor wat sê: “Koos, verkoop die kafee!”

Koos het eers die stem ignoreer, maar dit het so aangegaan vir dae: “Koos, verkoop die kafee!” Later: “Koos, verkoop die kafee vir R500 000!”

Na ’n paar weke kon Koos dit nie meer hou nie en hy verkoop die kafee.

Net daai volgende dag hoor Koos weer van bo: “Koos, gaan Sun City toe!”
“Hoekom?” wil Koos weet.
“Koos, vat net die R500 000 en gaan Sun City toe!”

So is Koos Sun City toe met die R500 000. Daar gekom laat die stem weer weet: “Gaan na die blackjack-tafel en wed alles op een hand. (Op die punt kan ons net noem dat die stem die woord “vingt-et-un” gebruik het, maar Koos het nie verstaan nie, so toe gebruik hy maar “blackjack”.)

Koos was maar huiwerig, maar stem toe maar in. Met die eerste deelslag kry Koos ’n totaal van 18, die huis 6.
“Vat nog ’n kaart Koos!”
“Wat? Die huis het …”
“VAT ’n KAART!”

Koos sug en dui aan hy wil nog ’n kaart hê.
Hy kry ’n klaweraas. Neëntien! Koos snak na sy asem.

“Vat nog ’n kaart Koos!”
“Wat?”
“VAT NOG ’n KAART!”

Koos, doodsbleek, vat nog ’n kaart.
Dis ’n hartenaas! Koos het twintig!

“Vat nog ’n kaart Koos!”
“Maar ek het twintig!” Koos is nou histeries.
“VAT NOG ’n KAART!”

Koos vat nog ’n kaart.
Dis ’n bloukoos! Hy het 21! Hy wen!

Na ’n gewyde oomblik van stilte laat die stem hoor: “Hel! Wie sou nou dit kon raai!”

Lewer kommentaar

Leave a Reply